Die Bela-Bela-polisie is bewus van gevalle waar iemand restaurante skakel om kastig ’n bestelling te plaas. Sodra die bestelling gereed is om afgehaal te word, word die werknemer gevra om lugtyd vir die inbeller te koop met die belofte dat dit met die afhaal van die bestelling vereffen sal word. Dit is dan die laaste sien van dié persoon.
Die restaurant ly skade omdat kos, waarvoor nie betaal is nie, voorberei word en die goedhartige werknemers ly ook geldelike skade.
Nog ’n slenter wat al geruime tyd in die sentrale sakesektor gebruik word, is waar iemand deur ’n groep mense genader word met inligting oor “winskope” wat by sekere winkels beskikbaar is. Mense word dan aangeraai om dadelik na dié betrokke winkel te gaan indien hulle van die ongelooflike aanbiedinge gebruik wil maak.
Die verdagtes oortuig dan hul slagoffer om hul items of pakkies by hulle te laat terwyl die inwoner na die winkel gaan.
Die verdagtes verdwyn dan met die inwoner se eiendom.
Volgens ’n woordvoerder van die polisie huiwer mense om hierdie bedrog aan te meld omdat hul skuldig voel oor die manier waarop hulle verkul is. Die polisie moedig egter inwoners aan om hierdie misdade aan te meld sodat die skuldiges vasgetrek kan word.
Die polisie raai ook inwoners aan om niemand te vertrou wat hulle met sulke aanbiedinge nader nie. Verdagte optrede kan by die polisie aangemeld word by tel. (014) 736 9760/1.