BlogsOpinion

Hoofartikel: Wat het posduiwe en die Straatmusikante van Bremen in gemeen?

Dekades gelede, toe ek as jong verslaggewer by Die Pos begin werk het, het ek gou agtergekom dat die weeklikse wedvlugduifuitslae nou nie die gewildste nuus in die koerant is nie.

Daar is net ’n handjievol mense wat dié sport beoefen en hoewel lesers kortstondig asem intrek as iemand ’n vet tjek of mooi motor in ’n kompetisie gewen het, verkies die meeste lesers steeds rugby of krieket op die agterblad.

Die afgelope jaar was daar besonder baie stories in Die Pos oor wedvlugduiwe. Ag, en toe ek vandeesweek in die Ons Hoor-kolom sien oom Jopie Jacobs van Bela-Bela wil sy wedvlugduiwe weggee, moes ek myself inhou om hom nie te bel nie.

 

Foto: vintagechildrensbooksmykidloves.com

 

Want sien, as kind het ek eendag die boek Skrik kom huis toe van Dolf van Niekerk by ’n prysuitdeling gewen. Dié jeugverhaal het my heeltemal begeester. Ek wou opsluit, nes die hoofkarakter in die boek, met wedvlugduiwe begin boer, maar my pa het gesê: “Agge nee, o hel, weet jy hoe daardie goed ons hele jaart gaan beskyt?”

Ek was baie kwaad vir my pa, maar later het die droom vervaag.

En op ’n dag het ons in ’n keisteenstraatjie in Duitsland geloop. Dit was snerpend koud.

“Kyk! Die straatmusikante van Bremen!” het ek verruk uitgeroep en ná ’n klein porseleinbeeldjie van ’n hoender wat op ’n kat staan, wat op ’n hond staan, wat op ’n donkie staan in ’n winkelvenster gewys.

“Ek sien hulle nie? Ek hoor ook nie die musiek nie!” het die een wat ek liefhet verbaas gesê en op en af in die straat gekyk.

“Moet tog nie vir my sê nie,” het ek geskok uitgeroep, “dat jy nou besig is om vir régte musikante te soek nie.”

“Wat bedoel jy? Wie is die ouens van Bremen?” het hy steeds verward bly uitvra.

“Het jy nie ’n ouma gehad nie, hé?” het ek afgehaal gevra. “Een wat saans vir jou stories gelees het voordat jy gaan slaap het? Het jy sélf nooit die Grimm-broers se sprokies gelees nie?”

Later het ek sleg gevoel oor my woorde en teen slaaptyd vir hom die storie van die straatmusikante van Bremen vertel.

Want kindertydstories het — net soos wedvlugduiwe — die manier om altyd maar weer terug te kom na ’n mens toe.

Related Articles

Back to top button