MunicipalNews

Verkeer vloei weer flink in Vaalwater

Die verkeer vloei makliker in Vaalwater se sakekern nadat ’n groot, ondoeltreffende driehoek in die dienspad verwyder en met ’n kleiner een vervang is.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het die taak met die hulp van plaaslike sakelui aangepak.

Die driehoek, wat jare gelede gebou is, was nie meer prakties nie en het verkeersvloei belemmer, het Marlene van Staden, burgemeester, gesê.

“Sakelui in die gebied het ons gevra om dit eerder met ’n verkeersirkel te vervang. Ek het saam met die munisipale bestuurder en ander amptenare na die probleem gaan kyk. Met die hulp van Joel Nel en Lood Swanevelder, wat grondverskuiwingsmasjiene en arbeid verskaf het, kon ons die driehoek afbreek en ’n kleiner een bou,” het sy gesê.

Baie van die paaie in Vaalwater is in ’n swak toestand.

Van Staden het gesê die munisipaliteit het die afgelope ses maande daaraan gewerk om die paaie te verbeter.

“Ons het vir baie van die grondpaaie grond aangery om gate op te vul, dit vasgerol en geskraap. Sowat 3,2 km se paaie in Mogol- en Waterbergstraat word nou geplavei. Ons hoop dat dit teen Desember voltooi sal wees,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button