Briljante boksgeveg, sê tevrede afrigter
Ramsey Hlongwane (27), ’n bokser van Modimolle, het op Sondag 20 Oktober saam met Anthony Grobler by Time’s Square in Menlyn in die bokskryt geklim en vir groot opwinding gesorg.
Dit was Hlongwane se tweede geveg nadat hy in Augustus sy debuut teen die gerekende Darrin Rossouw in die weltergewigafdeling by Emperor’s Palace gemaak het. Hoewel Rossouw die geveg met ’n tegniese uitklophou gewen het, het Hlongwane volgens sy afrigter, Peet Oberholzer, die eerste vier rondes oorheers.
Hlongwane oefen by Obie’s Boxing and Fitness by Hoërskool Nylstroom.
“Dit was ’n briljante geveg,” het Oberholzer gesê. “Grobler was baie goed — daar is ’n rede hoekom hy nog nooit ’n geveg verloor het nie. Dit was ’n baie goeie vertoning en al het ons verloor, is ek baie in my skik met die goeie vordering wat ons gemaak het. Ramsey se vertoning teen só ’n klas teenstander wys ons is op die regte pad,” het hy gesê.