Local newsNews

Ondersoek toon hartaanval op bouperseel eis “gentleman” van die boubedryf

Die Bela-Bela-gemeenskap het met skok gereageer ná die skielike dood van Gerrie van der Westhuizen (64) — ’n man wat allerweë as “’n gentleman in die boubedryf” beskryf word.

Van der Westhuizen is op Donderdag 10 Oktober dood terwyl hy besig was om ’n skadebepaling by die SuperSpar-inkopiesentrum op die dorp te doen.

Sy kundigheid is ingeroep nadat ’n onbekende vrou in ’n wit Toyota Fortuner op Saterdag 5 Oktober die pilare van die Tops-drankwinkel in die kompleks aan flarde gery het en dele van die dak daarna ingetuimel het. ’n Video-opname van dié bisarre ongeluk is wyd op sosiale media versprei. Eddie Alberts, eienaar van die betrokke gebou, het in reaksie aan Die Pos gesê dié deel van die gebou is ná die ongeluk as onveilig vir voetgangers verklaar.

Van der Westhuizen het teen ongeveer 18:00 die aand van sy dood van ’n leer afgeval en is op die toneel dood verklaar. ’n Geregtelike doodsondersoek is daarna deur die Bela-Bela-polisie geopen. Die lykskouing, wat op Dinsdag 15 Oktober gehou is, het volgens sy familie getoon dat hy aan ’n hartaanval gesterf het en nie weens die veelvuldige beserings wat hy tydens die val opgedoen het nie.

Sy vrou, Francis, het aan Die Pos gesê hoewel dié wete nie die leemte wat haar man se dood laat, sal vul nie, bring die oorsaak van sy dood tog ’n mate van berusting.

Van der Westhuizen het in Vereeniging grootgeword en op 16-jarige ouderdom skool verlaat om saam met sy pa, Piet, in die boubedryf te werk.

Hy sou aanstaande jaar 50 jaar in die boubedryf gewees het en op Sondag 27 Oktober sy 65ste verjaardag gevier het.

Hy en Francis het in 1989 ontmoet en is in 1990 getroud. Die egpaar het in 1994 saam met hul kinders na Bela-Bela verhuis. Van der Westhuizen het ’n groot liefde vir jag en skyfskiet gehad en was lid van die Bosveld-jagtersvereniging. Sy gesin het skertsend vertel hoewel Van der Westhuizen ’n boot besit het en by die plaaslike bootklub betrokke was, hy nie eintlik kon swem nie.

Hy was alombekend vir sy geesdrif oor voertuie en veral bakkies. ’n Nuwe model het skaars op die mark verskyn of hy het al die spesifikasies en ekstras van die verskillende modelle vergelyk. Hy was volgens sy gesin op sy gelukkigste wanneer hy die sleutels van ’n nuwe bakkie in sy hande gehad het.

Die gesin sal hom onthou as ’n streng, maar regverdige pa en ’n geliefde en geduldige oupa. Ook as iemand met onwrikbare norme en waardes.

Hy het sy kinders geleer dat hulle respek vir die dood moet hê, maar dit nie moet vrees nie, want die lewe gaan aan ná die dood.

Van der Westhuizen se roudiens vind op Vrydag 18 Oktober om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk in die dorp plaas.

Die familie bedank die gemeenskap vir hul liefde, tyd en hulp tydens hierdie moeilike tyd.

Van der Westhuizen word oorleef deur sy vrou, Francis, hul kinders Maryke André en haar gesin, Wikus en Liesl Steyn en hul gesin, Johan en Gerhard van der Westhuizen, Marelize en Dirk Coetzer, Francis se pa, oupa Wiela, asook twee kleinkinders, Marko en Miché.

  • Die polisieondersoek na die motorongeluk waarin die skade by SuperSpar veroorsaak is, is steeds onafgehandel.Die vrou, wie se identiteit steeds onbekend is, woon volgens bronne in Johannesburg. ’n Saak van roekelose en/of nalatige bestuur word volgens die polisie ondersoek, maar geen klagte is nog gelê nie.’n Lid van die Bela-Bela-polisie, wat nie sy naam genoem wou hê nie, het aan Die Pos gesê die vrou was “duidelik nie die aand van die voorval onder die invloed van alkohol nie en daarom was daar geen rede om haar bloedalkoholvlak te laat toets nie”.

Related Articles

Back to top button