Local newsNews

Sakelui spring self in om op te ruim

’n Aantal sakelui in die nywerheidsgebied in Modimolle het ingespring om dié deel van die dorp op te ruim.

Bome is gesnoei sodat takke nie naby Eskomlyne groei nie, die gras is gesny en sypaadjies is skoongemaak. Bourommel is van sypaadjies verwyder en tientalle slaggate is met grond opgevul en vasgestamp. Die sakelui het self die koste vir hierdie opknappingswerk gedra.

’n Mens kon die afgelope weke ’n beduidende verskil sien aan dié deel van die dorp waar van die grootste werkverskaffers is.

Ondernemings in die nywerheidsgebied moet verskeie uitdagings die hoof bied en pleit jare lank al dat die pad, wat in ’n po-were toestand is, herstel word. Dit het egter nou só versleg dat die teer moontlik heeltemal vervang sal moet word pleks daarvan om net slaggate te herstel.

Riool en stinkende bloedwater wat gereeld in Kanaalstraat langs die slagpale afvloei, is nog een van die jarelange kopsere. Die nywerheidsgebied is by die dorp se ingang vanaf die tolhek geleë.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, vind daar tans besprekings oor die herstel van die paaie in dié omgewing plaas.

“Ons wil dit baie graag herstel. Dit is iets wat al sedert 2016 deel van die dorp se geïntegreerde ontwikkelingsplan is en aan inwoners beloof is.”

Related Articles

Back to top button