Karel Niewenhuis, adjunk- provinsiale leier, Vryheidsfront Plus, skryf:
Volgens die minister van vervoer, Fikile Mbalula, het die Administratiewe Beoordeling van Padverkeersoortredings (Aarto), verhoogde padveiligheid ten doel.
Die wet is ’n uitvloeisel van die uitdaging wat padveiligheid vir die land inhou.
Afhangende van die erns van ’n oortreding, word ’n oortreder met een tot ses punte gestraf. Indien daar 12 of meer punte teen ’n oortreder se naam aangeteken is, word die bestuurslisensie opgeskort. Drie opskortings lei tot kansellasie van ’n bestuurslisensie.
Aarto is ’n stelsel wat slegs in ontwikkelde lande suksesvol toegepas kan word. So ’n stelsel vereis bekwame, onkreukbare en goedopgeleide verkeers- en polisiebeamptes. Aarto is tans ’n wollerige konsep aangesien daar nog nie besluit is met hoeveel punte ’n bepaalde oortreding gestraf sal word nie.
Daar bestaan ook onduidelikheid oor hoe ’n padgebruiker appèl kan aanteken. Padgebruikers wat gedagvaar word, het die reg om voor ’n hof te verskyn om hul onskuld te bewys en kan nie deur ’n buitegeregtelike proses gevonnis word nie. Hierdie proses word klaarblyklik deur die Verkeersoortreding Agentskap (RTIA) beheer. Om ’n boete te betaal, vrywaar padgebruikers ook nie van die puntestelsel nie en die reël om onskuldig te wees tot skuldig bewys, word geïgnoreer.
Bestuurders sal alles in hul vermoë doen om die opskorting van lisensies vry te spring, derhalwe kan die moontlikheid van korrupsie nie uitgesluit word nie. Huurmotor- en swaarvoertuigbestuurders, asook talle ander, is van ’n geldige bestuurslisensie afhanklik vir ’n inkomste.
Aarto sal uiteraard ’n werkbare administratiewe datastelsel vereis en wat administrasie betref is die regering feitlik deur die bank ’n mislukking. Hierdie datastelsel moet ook al die provinsies met mekaar verbind om ’n nasionale inligtingstelsel daar te stel.
Hierdie puntestelsel kon geïnkorporeer word by die Padverkeerswet wat suksesvol toegepas is. Nog wetgewing is nie die antwoord vir onveilige paaie nie. Aandag moet gegee word aan onder meer doeltreffende lisensieering van voornemende bestuurders, korrupsie by toetssentrums, padwaardige voertuie, die nakoming van die spoedgrens en nalatige padgedrag. Die nuwe stelsel is slegs nog ’n manier om geld in te samel. Geen wesenlike bydrae sal tot veiliger padgebruik of effektiewe wetstoepassing gemaak word nie. Wetstoepassing sal steeds ongekoördineerd en grootliks ondoeltreffend bly.
Pleks van bestaande stelsels op te gradeer, word administrasie uitgebrei wat tot onnodige uitgawes en moeilik hanteerbare stelsels lei. Aarto is net nog ’n voorbeeld hiervan.