Lifestyle

Waarskuwing: Wees wakker tussen die winkelrakke

Die probleem is dat slagoffers nie dadelik agterkom hulle is besteel nie. Teen die tyd dat hulle hul beursies begin soek, is die booswigte reeds ver weg.

Al hoe meer mense wat inkopies in supermarkte doen, word die slagoffer van ’n sindikaat wat “per ongeluk” aan hulle stamp of iets vra en hulle dan besteel.

Die Pos het die afgelope ses weke talle oproepe gehad van mense wat vertel hoe dit met hulle gebeur het. Dit gebeur nie altyd by dieselfde winkel of dieselfde dorpe nie en die booswigte is nie altyd dieselfde mense nie.

’n Vrou van Bela-Bela, wat verkies om nie haar naam te noem nie, het aan Die Pos vertel dat sy verlede week by ’n kettingwinkel in die dorp deurgeloop het. Volgens haar het iemand haar “per ongeluk” met die trollie gestamp en skielik was daar ’n hele paar “bemoedigers” om haar wat wou weet of sy seergekry het. Toe sy by die toonbank kom, was haar selfoon en beursie uit haar handsak weg.

Volgens die vrou het sy saam met die sentrumbestuur na ’n video-opname gekyk wat wys hoe die booswigte haar selfoon en beursie uit haar handsak vat terwyl hulle om haar saamdrom. Hulle het agterna rustig uit die winkel gestap en in ’n swart BMW sonder nommerplate geklim en weggery.

Volgens die winkeleienaar is dié slenter een waarmee bykans alle supermarkte stoei. Die probleem is dat die booswigte selde dieselfde mense is. Daar is talle sulke sindikate, sê hy. Hulle bly ook nie lank op een plek nie en beweeg eenvoudig net aan na die volgende dorp.

Die probleem is ook dat slagoffers nie dadelik agterkom hulle is besteel nie. Teen die tyd dat hulle hul beursies begin soek, is die booswigte reeds ver weg.

Hy het vroue aangeraai om hul handskke se ritssluiters toe te trek en die knippe vas te maak. “Beursies of selfone moenie uitsteek by die handsak nie. Moenie beursies in die winkeltrollies plaas nie. Moenie met groot bedrae kontant rondloop nie. Moenie direk van die bank af met kontant winkel toe gaan nie,” het hy gewaarsku.

Hy het mense ook aangeraai om nie meegesleur te word deur vreemdelinge wat onsinnige praatjies wil maak nie. Soms gee skelms voor dat hulle iemand ken of hulle komplimenteer iemand oordadig of mik selfs grappenderwys ’n paar bokshoue na iemand. “Dit is alles taktiek om mense se aandag af te lei terwyl hul makkers kyk waar hulle jou kan besteel,” waarsku hy.

“Wanneer jy gestamp word of vreemdelinge met jou begin praat, knyp jou handsak, selfoon en beursie styf vas en wees wakker,” is sy raad.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button