Man in hof ná wrede moord op bejaarde

Dit was ’n klein, skraalgeboude man wat op Donderdag 3 Oktober in die beskuldigdebank gestaan het ná die gruwelike moord op die 73-jarige Trudie Grebe, bekende diereliefhebber van Modimolle.

Morris Maripa (51) het op aanklagte van moord en roof in die hof in Modimolle verskyn.

’n Vernielde Grebe is op Vrydagoggend 23 Augustus dood in haar erf in die stil Emmastraat in Modimolle aangetref nadat sy vermoedelik met ’n mes en ’n groot klip aangeval is. Sy het na bewering erge beserings aan haar gesig en hande gehad.

 

 

’n Kliënt wat ’n hond gebring het om geskeer te word, het onraad vermoed toe sy Grebe nie in die hande kon kry nie. Sy is saam met ’n vriend in die erf in om na Grebe te soek en het die ontstellende ontdekking gemaak.

Grebe, wat jare lank ’n troeteldierwinkel in die dorp bestuur en honde geskeer het, was bekend as ’n groot diereliefhebber. Die dierebeskermingsvereniging het dieselfde oggend van die moord 14 honde van die erf verwyder sodat hulle versorg kon word.

Maripa, wat glo voorheen vir die Grebes tuinwerk gedoen het, is ná ’n dae lange polisiesoektog en fyn speurwerk in Witpoort buite Lephalale by sy suster se huis aangekeer.

Dolf Grebe (75) was tydens die aanval in die huis, maar is verswak en hardhorend. Hy het eers van die tragedie wat buite afgespeel het, bewus geword toe die polisie en bure opdaag. Hy is intussen in ’n ouetehuis opgeneem.

Maripa se saak is uitgestel tot Dinsdag 17 Desember omdat die staat wag vir die uitslae van DNS-toetse. Hy bly in aanhouding.

Grebe het in 2016 in ’n onderhoud met Die Pos gesê die onvergeetlikste reis wat sy in haar lewe onderneem het, was haar lewensreis. “Ek is nie ’n reisiger nie. Ek is op my gelukkigste saam met my man en my diere. Ná ons enigste seun, Rudi, se dood het ons ongelukkig nie meer familie nie. My man is die groot vreugde in my lewe. Ek het geleer dat besittings nie saak maak nie, maar mense wel,” het sy aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button