Langasemperde en ruiters lê baie kilometers af
Altesame 95 perde het deelgeneem aan die Waterberg-uithouritklub se tweedaagse rit wat op 27 en 28 September buite Modimolle gehou is.
Dit was een groot stofstorm, sweet en lekkerkry die hele naweek deur.
“Ruiters van sover as Newcastle het opgedaag vir die Bosveld-uithourit. Nie eens ’n perdewa met gebreekte wiellaers kon die ruiters keer nie,” het Marietjie van der Merwe van die klub gesê. “Die Waterbergers het hard gewerk om die rit ’n groot sukses te maak.”
’n Paar klein Nylies het op Vrydag 27 September ook gewys hulle het murg in hul pype. Hein Pretorius op Deo Gratias Rosali, Reze Swart op Comarde Al-Shama, Zanel van Staden op Misty en Skyelar Ruthven op Whisper het almal die 40 km vir dagruiters voltooi. Mieke Ferreira op Beauty het ook 40 km voltooi. Cecile Kruger op Deo Gratias Angelo, Marietjie van der Merwe op Nazee en Schalk van der Merwe op Deo Gratias Roi het die 80 km kafgedraf.
Die veeartspaneel was baie beïndruk deur die klein Nylies se toewyding en versorging van hul perde.
Altesame 66 ruiters het op Saterdag 28 September weggetrek op die roete wat lekker sag getrap is deur die vorige dag se perdehoewe. Dik sand en stof en warm son het vasbyt geverg van die ruiters en perde. Elke 5 km kon die perde hul dors les by waterpunte. Ook die ruiters is gelaaf met gevriesde watersakkies.
Klein Nylie Zualize Booysen het haar eerste rit van 40 km met n groot glimlag op Deo Gratias Rosali se rug voltooi. Marisa Benade, ’n oud-Valie, het ook 40 km voltooi. Cecile Kruger het op Comarde A-lShama 40 km gedoen wat dan die perd se “novice”-fase van 40 km afhandel. Laerskool Nylstroom se Anika Swart op Arkab Frieda was derde in die 80 km-kinderafdeling en Luan Pretorius op Deo Gratias Fantasia was tweede in dieselfde kategorie.
Die liggewigte van Waterberg was ook goed verteenwoordig. Marietjie van der Merwe op Deo Gratias Zeena was derde en Lizette Enslin was vierde op Deo Gratias Piper.
Drie veeartse het Saterdag gehelp om seker te maak dat die perde nie beseer is of enige metaboliese probleme het nie. “Die goue reël by uithouritte is dat die perd ná die laaste been van 20 km steeds fiks genoeg moet wees om voort te gaan. Fiksheid, kondisie en goeie ruiterskap dra die perd deur die 80 km,” het Van der Merwe gesê.
Geen ruiter is beseer nie en die Waterberg-uithouritklub is baie dankbaar daarvoor. Die volgende rit sal aan die einde van Maart volgende jaar gehou word. Daar is vanjaar nog een rit in Limpopo oor. Dit word deur die Lethaba-uithouritklub aangebied naby Polokwane.