Local newsNews

Duisende hektaar bly in die slag ná veldbrande

’n Baie sterk suidwestewind het egter die vlamme aangehelp en dit het só vinnig in die bergagtige gebied versprei dat dit bykans ’n onbegonne taak was om die vlamme te blus.

Duisende hektaar weiding is die afgelope week verwoes terwyl wegholveldbrande dae lank gewoed het in die Swaershoekberg in die Alma-omgewing, anderkant Cyferfontein in Marble Hall se rigting en ook in die omgewing van Middelfontein, Deelkraal en Nylsvley buite Mookgophong.

 

Verwoestende veldbrande het die afgelope week in die Swaershoekberg in die Alma-omgewing, anderkant Cyferfontein in Marble Hall se rigting en ook in die omgewing van Middelfontein, Deelkraal en Nylsvley buite Mookgophong, gewoed. Dié foto is Dinsdagmiddag 1 Oktober op die Hessie-se-water-pad tussen Modimolle en Mookgophong geneem. Foto: Herman Steyn

 

Volgens Ockert Scherman, voorsitter van die brandvereniging in Mookgophong, het die eerste brand in dié omgewing vermoedelik in die berg in die Luipaardskloof-omgewing ontstaan en die ander een in die Bokpoort-omgewing. Boere, plaaswerkers en lede van die Working on Fire-groep (WoF) het onverpoos gewerk om die vlamme onder beheer te bring.

’n Baie sterk suidwestewind het egter die vlamme aangehelp en dit het só vinnig in die bergagtige gebied versprei dat dit bykans ’n onbegonne taak was om die vlamme te blus.

Die vlamme het later vanaf die R101 oor die N1-snelweg “gespring” en die sig van motorryers belemmer. Verskeie mense het video’s op sosiale media versprei wat die rookbolle en vlamme wys.

Weldoeners het kos, water en ysies na verskeie punte geneem waar dit aan vuurslaners uitgedeel is. Corné Pohl van die veiligheidsgroep van sektor 3 het sy dank namens die brandspanne daarvoor uitgespreek.

Teen Dinsdagoggend 1 Oktober om 03:00 was die brand in die Nylsvley-omgewing geblus. Baie weiding het egter in die slag gebly by veral Serendipity, ongeveer 20 km buite Mookgophong, en by Fumani, op die Boekenhoutpad.

Volgens Scherman is ongeveer 20 000 ha verwoes. Hy het gesê talle brandpaaie is nie op standaard nie en ’n beroep op boere gedoen om daarop bedag te wees dat voertuie op die brandpaaie moet kan beweeg, anders help dit niks nie. In sommige gevalle moes daar drade geknip word om by die vlamme uit te kom.

Ook Scherman was vol lof vir die gemeenskap: “Daar was met tye meer as 50 bakkies met brandslaners wat kom help het.”

Mariëtte Nicholson, operasionele bestuurder van die brandvoorkomingsvereniging in die Modimolle-omgewing en basisbestuurder vir WoF, het gesê daar is teen druktyd geen berigte ontvang dat geboue beskadig is of iemand ernstig beseer is nie.

Volgens Nicholson het die hoë brandgevaarindeks, asook die winde wat die week gewaai het, toestande vererger en die brande het plek-plek weer opgevlam nadat dit ge-
blus is.

Die WoF-helikopter het langs Nylsvley en Deelkraal gehelp brande blus. Richard Nicholson het ook lugfoto’s van die brande aan die sektormonitors verskaf sodat hulle kon beplan waarheen om brandbestryders te stuur.

“Dis is vir ons gerusstellend dat die gemeenskap dadelik ingespring het om te help. Die eerste optrede is baie belangrik om die verspreiding van die brande te beperk. Hulle verdien ’n pluimpie,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button