![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2019/10/20a.jpg)
Ek is ’n kenner op die gebied van “jeukerigheid”. Ek is al soveel keer deur hierdie lus vir motorkoop oorval dat ek ’n redelike vlak van immuniteit ontwikkel het. My weerstand is nou al van so ’n aard dat ek my ou bakkie liefgekry het.
Wanneer daar ’n nuwe voertuig, en veral ’n bakkie, op die werf pronk, is die eienaar gewoonlik effens jammer vir die nuwe ryding. Ek self het eenmaal, op dieselfde dag dat ek ’n nuwe bakkie gekry het, ’n naweekwegbreek met die ou een aangepak. Die rede hoekom ek nie met my spognuwe vuurwa gery het nie, was dat ek bang was daar skiet dalk ’n klip op wat my nuwe ryding verniel. Al daardie kilometers op ’n nat pad sou ook nie sommer so op die eerste naweek vir my nuwe “baba” deug nie.
En sê nou maar net die werkers trap die verf van die agterklap af? Of die vrag skuur in die bak rond? Die voorruit kry dalk skade, of behoede my as iemand dalk argeloos ’n merk met ’n winkeltrollie teen die bakwerk laat.
Ek het al gehoor van iemand se oom wat die gewoonte het om, wanneer hy ’n nuwe bakkie koop, sommer so in die verkoopslokaal, terwyl die strikke nog op die enjinkap lê, die nuwe sleutel by die verkoopsman te neem en ’n krap in die nuwe bakkie se verf te maak. Sy argument is: Dan het hy nie nodig om heeltyd op sy hoede te wees vir wanneer die bakkie sy eerste krap gaan kry nie — hy het mos nou klaar ’n krapmerk!
My bakkie raak nou oud en dit is eintlik ’n lekker gevoel. Die gevoel wanneer die ergste jammergeit nou oor is. Nie dat ek hom graag verniel nie, maar as hy ’n bietjie in die son staan, is ek nie dikbek nie. As die grondpad baie erg is, wil ek nie huil nie en as ek ’n nuwe krapmerk raaksien, vra ek nie kwotasies op nuwe bakkies aan nie.
Om ’n bakkie te hê wat gebruik word vir die doel waarvoor hy aanvanklik gebou is, hou daardie jeukerigheid ’n bietjie in toom. Ek geniet sy volle diensbaarheid met krappe en al.