BlogsOpinion

Hoofartikel: Ligte, kameras en báie aksie

Dit is die eerste keer in jare dat dié skole dieselfde datum vir hul spogaand gekies het.

Die drie grootste hoërskole in Die Pos se lesersgebied — die Hansies, Nylies én Warries — het die afgelope week op presies dieselfde aand matriekafskeid gehou.

Dit is die eerste keer in jare dat dié skole dieselfde datum vir hul spogaand gekies het. En het die Waterbergers nie geskitter nie!

 

Skye Bester, hoofmeisie van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, wink blinkoog vir die toekoms tydens dié skool se matriekafskeid. Hoërskool Hans Strijdom, Warmbad én Nylstroom het die afgelope week matriekafskeid gehou. Sit gerus terug en geniet al die foto’s van die Waterberg se mooie matriekkinders. Foto: Pieter Moolman

 

Daar was behoorlik op Donderdag 19 September nie plek vir ’n muis by ’n skoonheidsalon of haarkapper in die omgewing nie en natgeswete ouers en fotograwe het op en af gery sodat almal betyds by hul bestemmings kon uitkom.

Hier by Die Pos het die uitleg van dié week se koerant ook kopkrap geverg, want boonop is daar toe sommer ook nog ’n vakansiedag by.

Gewoonlik het ons darem twee of drie weke waarin ons matriekafskeidfoto’s vir ons lesers kan wys voordat dit “ou nuus” is, maar nie dié keer nie.

Hierdie kinders met hul spoggerige pakke en lieflike aandrokke is mos ónse kinders — hulle wat anderdag nog boksterte en selfgeknipte kuiwe gehad het. Die kinders wat haasbek in ons klasse gesit en krieketballe deur ons vensters geslaan het. Hulle wie se hartseer en blydskap ons ken, want hier op die platteland ken ons mos maar dikwels mekaar se stories.

Hoe kan ons nou nié ’n traan pink as hulle so swierig voor ons op die rooi tapyt loop nie?

Juis daarom het Die Pos besluit om vandeesweek so ’n bietjie van “nuus” te vergeet en sommer ons hele koerant net aan matriekafskeid af te staan.

Geniet dit. Vergeet van die klein dingetjies wat dalk nie uitgewerk het soos dit moes nie — niemand anders het dit agtergekom nie. Kyk na die blinkoogkinders en droom saam met hulle oor die mooi van jonkwees.

En oor daardie belofte in Jeremia 29:11 wat lui: “Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.”

Related Articles

Back to top button