CrimeNews

Misdaadslagoffers styg in 2019

Die moordsyfer het gestyg met 3,4%, seksuele oortredings het met 4,6% gestyg, poging tot moord het gestyg met 4,1%, aanranding met die opset om te beseer het met 2,2% gestyg, aanranding het gestyg met 3,7%, roof het gestyg met 1,2% en roof met verswarende omstandighede het ook met 2,6% gestyg.

Dit was die skokkende statistiek wat genl. Bheki Cele, minister van polisie, op Donderdag 12 September in Kaapstad tydens die bekendmaking van die nasionale misdaadsyfers oorgedra het.

Die 1154 polisiestasies regoor Suid-Afrika het tussen Maart 2018 en April 2019 hul hande vol gehad met klagtes en ondersoeke.

Cele het gesê dat die gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid wel daarin geslaag het om oor dieselfde tydperk 658 lewenslange vonnisse uit die 504 geregistreerde sake te laat realiseer.

Seksuele misdade het ongelukkig van 50 108 gerapporteerde sake in die vorige jaar na 52 420 landwyd gestyg.

In Die Pos se lesersgebied het die inhegtenisnames by die onderskeie polisiestasies in Bela-Bela, Modimolle, Vaalwater en Mookgophong wipplank gery.

Mookgophong het die meeste moorde (14 voorvalle) tussen 2018 en 2019 beleef, met Bela-Bela op nege, Modimolle op agt en Vaalwater op drie, volgens die nuwe syfers.

Modimolle het die hoogste verkragtingsyfer getoon (56 sake), met Bela-Bela die tweede meeste (37), Vaalwater derde (22) en Mookgophong (17).

Aanranding met die doel om te beseer het in Bela-Bela afgeneem van 226 na 214 sake en in Modimolle van 150 na 130 sake. In Mookgophong het dit egter toegeneem van 160 na 166 sake en in Vaalwater het dit afgeneem van 35 na 31 sake.

Luidens die syfers het roof met verswarende omstandighede in Bela-Bela van 79 na 95 sake toegeneem, in Modimolle van 34 na 39, in Mookgophong van 22 na 39 en in Vaalwater van agt na 14 sake gestyg.

Die groot kopseer vir meeste inwoners was inbrake by wonings. In Bela-Bela het dit van 408 sake na 426 toegeneem, in Modimolle het die totale sake gedaal van 317 na 313, in Mookgophong het dit drasties gedaal van 239 na 185 en in Vaalwater van 78 na 114 sake toegeneem.

Volgens die polisie kan die meeste van die diefstalgevalle met dwelmverwante sake verbind word.

Bela-Bela was bo-aan die lys met 599 inhegtenisnames vir dwelmsake teenoor verlede jaar se 853 sake. Modimolle het 252 inhegtenisnames gehad teenoor 2018 se 265 sake.

Mookgophong se dwelmprobleem het van 195 na 147 sake gedaal en in Vaalwater het die sake van 127 na 136 gestyg, volgens die beskikbare syfers.

Huisroof het in Bela-Bela van 10 na 21 voorvalle toegeneem. Dié syfer het in die ander dorpe gedaal: in Modimolle van 15 na sewe, Mookgophong van agt na vyf en in Vaalwater van sewe na ses voorvalle.

Cele het gesê dat president Cyril Ramaphosa die opdrag gegee het dat misdaad oor die volgende tien jaar moet halveer.

Die president het ook gesê dat ou ondersoekeenhede wat ontbind is of weens gebrek aan fondse gesluit is, terug gebring moet word om meer hulpbronne aan speurtakke, die inspektoraat vir prioriteitsmisdade (Valke), asook misdaadintelligensie, beskikbaar te stel om misdaad onder beheer te bring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button