AO George Ledwaba, media- en GPF-verteenwoordiger, het aan inwoners gesê die dorp is nie meer dieselfde wat dit in die tagtigerjare was nie. Daar is baie mense in die dorp wat nie goeie bedoelings het nie en daarop uit is om ouer mense te beroof of te na te kom, het hy gemaan.
Ledwaba het ’n paar goue reëls aan inwoners voorgehou. Hy het inwoners gewaarsku oor ’n nuwe slenter van boosdoeners om voor te gee dat hulle eiendomme wil koop, maar dan net rondloer om te kyk waar hulle later kan inbreek. “Moenie deure en vensters oop los of waardevolle artikels naby vensters neersit nie,” het hy gesê.
Dit is ook belangrik om veiligheidsdeure gesluit te hou. Hy het bejaardes aangeraai om liefs die dorp teen maandeindes, asook Vrydae en Saterdae, te vermy en uiters versigtig te wees wanneer hulle banke besoek. Voorts het hy gewaarsku teen skelms wat afstandbeheertoestelle gebruik om te keer dat voertuie behoorlik sluit.
Hy het daarop gewys dat daar deesdae talle misdaadverwante voorvalle in Thabo Mbekistraat aangemeld word en versoek dat mense enige verdagte optrede, soos byvoorbeeld voertuie wat doelloos op en af ry, by die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) of polisie aanmeld.
Volgens Philip van Staden, wat deel van die GPF in die dorp is, is daar sowat 40 GPF-reaksielede wat binne minute op ’n noodoproep kan reageer.
Die vergadering het ten einde besluit om ’n veiligheidsvalhek (“boom”) by die ingang van Gholfpark aan te bring om die toegang van voertuie en voetgangers te beheer.