CrimeNews

Suid-Afrika is ’n ‘oorlogsone’ vir vroue

Meer as 582 000 landsburgers het die afgelope week ’n petisie op die webwerf Change.org geteken om die doodstraf terug te bring vir oortreders wat misdade teen vroue en kinders pleeg. Dit het gevolg nadat talle vroue die afgelope tyd dwarsoor die land verkrag en vermoor is.

Hoewel die polisie se nasionale misdaadstatistieke jaarliks ’n donker prentjie skets, is dit die eerste keer in jare dat landsburgers hul stemme tot in die parlement dik gemaak het.

Die dringendheid vir strenger maatreëls het ook op Maandag 9 September in Bela-Bela opgeduik toe lede van die ANC-vroueliga voor die Bela-Bela-landdroshof betoog het.

Die groep is gelei deur Spando Maluleka, ANC-raadslid van die Bela-Bela munisipaliteit, asook Matilda Radebe, voormalige ANC-raadslid.

Die plakkate het uitbasuin: “Bring on the chemical castration”, “President, enough is enough”, en “Women and child abuse must fall.”

Die groep het ’n memorandum aan landdros Maggie Montane oorhandig. In die memorandum is gesê vroue ervaar Suid-Afrika as ’n oorlogsone omdat hulle daagliks die risiko loop om op ’n gewelddadige wyse aangeval te word.

Luidens die memorandum is dit vreemd dat die media, pleks van regerings- en veiligheidsinstansies, die voortou neem om dié probleem uit te lig.

Die groep het geëis dat die howe geen borgtog aan oortreders toestaan nie en lewenslange vonnisse, sonder die opsie van parool, oplê.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede week ’n soortgelyke stelling in Kaapstad gemaak.

Radebe het aan Die Pos gesê dit is die liga se doel om soortgelyke betogings te hou om te sorg dat vroue en kinders beskerm word.

Die parlement het op Vrydag 6 September ’n verklaring uitgereik wat lui dat ’n interministeriële taakspan saamgestel sal word om die sogenaamde “massadood” — deesdae bekend as femicide — van vroue en kinders te ondersoek.

Die regering beoog ook om die nasionale register van oortreders wat verbind word met seksuele misdade vir die publiek oop te stel, maar dit kan slegs geskied sodra die registerwet gewysig is.

Die regering het ’n beroep op landsburgers gedoen om seuns van kleins af te leer om alle mense, veral vroue en meisies, te respekteer.

  • Volgens die polisie se bestaande nasionale misdaadstatistiek is 2930 vroue, 294 meisies en 691 seuns tussen April 2017 en Maart 2018 vermoor.Die meeste moorde het in KwaZulu-Natal (730 moorde), Gauteng (657) en die Wes-Kaap (649) plaasgevind. In Limpopo is 184 vroue, 14 meisies en 17 seuns vermoor.Die polisie het altesame 36 731 sake van seksuele misdrywe landwyd teen vroue oor dieselfde tydperk ondersoek.Volgens hierdie statistieke is 23 488 sake van seksuele misdrywe teen kinders geopen.Verder het 3 554 vroue en 1 059 kinders die slagoffers geword van poging tot moord.

    Altesame 53 263 vroue en 7 562 kinders is aangerand met die opset om ernstig te beseer.

Related Articles

Back to top button