Nie net was daar tientalle voete op die grond om die verdagtes vas te trek nie, maar danksy vliegtuie en helikopters wat deelgeneem het aan die soektog, was daar ook oë in die lug.
Die voorval het kort voor Wêreld Renosterdag, op Sondag 22 September, wat juis poog om bewusmaking van die bedreiging wat dié diere in die gesig staar te skep, gebeur.
’n Renoster is op Woensdagoggend 4 September in die Rankinspas-omgewing geskiet en twee horings is afgesaag. Nadat hul spoor gevolg is, is drie verdagtes in die omgewing van Rankinspas en Vaalwater aangekeer, het kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale woordvoerder van die polisie, gesê.
Die volgende dag is nog twee verdagtes in die omgewing vasgetrek. Teen druktyd was dit nie duidelik of hulle met die stropery verbind kon word nie. Daar was ook in dieselfde tyd huisbrake in die omgewing.
Die verdagtes, wat tussen 31 en 37 jaar oud is, sal in die howe in Vaalwater en Modimolle verskyn. Daar is beslag gelê op ’n silwerkleurige paneelwa, twee renosterhorings, ’n jaggeweer met ’n knaldemper, agt rondes ammunisie en ’n byl.
Genl. maj. Samuel Manala, waarnemende provinsiale kommissaris van die polisie, het diegene wat die verdagtes vasgetrek het ’n pluimpie gegee en gesê hulle het hul baie goed van hul taak gekwyt.