BlogsOpinion

Hoofartikel: Moenie met ’n mond vol tande staan nie

Ek was daardie kind wat nie gepraat het nie as die juffrou vra: “Verstaan julle?” Ek was nog nooit ’n handopstekertjie, voorprater, toi-toier of ondertekenaar van petisies nie.

“’n Stil bek is ’n heel bek,” het die oumense gewaarsku.

En met reg, want ai tog, sedert die Bybelse tyd kon die tonge mos die spreekwoordelike bosse aan die brand steek.

’n Skrywersvriendin van my vertel hoeka van haar verraderlike draaktong wat soms so onverwags uitspring en vuur uitblaas en die verskriktes voor haar laat terugsteier — gewoonlik tot haar latere skaamte en bittere spyt.

My grootste tongverwyte is egter nie oor goed wat ek gesê het nie — veel eerder oor goed wat ek nié die moed gehad het om te sê nie: Jammer. Geluk. Ons moet praat. Ek stem nie saam nie. Oppas. Nee. Jy maak nie reg nie. Verskoon my, ek vertoef nie langer hier nie.

Ek was daardie kind wat nie gepraat het nie as die juffrou vra: “Verstaan julle?” Ek was nog nooit ’n handopstekertjie, voorprater, toi-toier of ondertekenaar van petisies nie.

Maar deesdae voel ek effe anders daaroor. Iewers langs die pad het ek besef tongbyt en wegkyk is soms net so vernietigend soos uitskree.

In sy roerende boek “Daughter of Rain” staan Corné Smith ’n hoofstuk af aan hoe vreemdelinge reageer wanneer hulle hom en sy vrou met hul erg gestremde kind raakloop. Daar is die ag-siestog-brigade, dié wat aanhou staar, dié wat onwelkome en ontaktvolle opmerkings maak en dan is daar diegene wat ouers soos Corné en sy Michelle se druppel water in die soms dorre woestyn word:

Wildvreemdelinge wat van nêrens af opduik, soms net met ’n sagte aanraking, ander kere met bemoedigende verstaan-woorde. Mense wat werklik omgee en die moeite doen om dit te sê. As ons maar wéét hoeveel so iets vir ouers soos Corné en Michelle beteken, sal meer mense dit dalk doen.

Wat my laat dink aan ’n spotprent op sosiale media. ’n Stokmannetjie lê bebloed op die grond en ’n verbyganger vra: “Wat is fout?”

“Iemand het oor my gery,” antwoord die stokmannetjie. Dan sê die verbyganger: “Nie alle bestuurders ry oor voetgangers nie. Ek is ’n bestuurder en ek ry nooit oor voetgangers nie; so kom daaroor.”

 

 

Baie mense voel presies só oor die afgelope week se veldtogte teen geweld teenoor vroue en kinders: Hulle is nie skuldig nie of word nie daardeur geraak nie; so dis nie hulle probleem nie.
Dis ’n ietwat lamsakkige houding.

Ons moet praat oor nee sê en vroueregte en eerbare mans, waarvan daar nog báie in die land is.

Gee tog maar daardie kompliment. Moenie stilbly oor ’n onreg nie. Moenie daar staan met ’n mond vol tande as jou woorde ’n verskil kan maak nie.

Related Articles

Back to top button