Gawie Richter, Modimolle, skryf:
Om Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se skuld van R250 miljoen in Junie 2018 tot R400 miljoen tans te laat styg, is ’n glashelder bewys dat sekere amptenare nie met geld kan werk nie.
Die 539 “verdagte uitbetalings” waarna in die verdoemde ouditverslag oor dié munisipaliteit verwys word, is bewys van die modus operandi wat gevolg is.
Met die lees van die berig “Dorp hou asem op toe Eskom weer dreig”, asook “Miernes van korrupsie oopgevlek” en “Raadsbesluit oor tariewe geïgnoreer” in Die Pos van Vrydag 30 Augustus is my geheue na 2012 teruggevoer toe daar berig is oor verskeie verdagte transaksies van amptenare in dié raad. Dit dien as voorbeeld van hoe belastingpligtes se geld oor die jare gesteel is.
As benadeelde belastingbetalers is dit nie ons kultuur om vure te brand en klippe te gooi nie, maar ons eis dat ’n klag onverwyld by die polisie gelê word en ’n saakdossier vir ’n in diepte ondersoek geopen word. (Brief verkort. — Red.)