CrimeNews

Stap vir slagoffers van verkragting

Die waardigheid en regte van vroue bly ’n aktuele saak en gedurende Vroue-maand in Augustus is verskeie pleidooie aan die regering gerig om strukture daar te stel om die regte van vroue beter te beskerm.

Die pleidooi om verkragtingslagoffers beter te beskerm en die hantering van hul sake te verbeter, is veral benadruk.

Leilani Kuter van Pretoria is een van die vroue vir wie dié saak na aan die hart lê aangesien sy self ’n slagoffer is.

Sy is 27 jaar gelede in September 1992 by die NG Kerk-jeugsentrum in Vermeulenstraat in Pretoria aangehou en verkrag, waarna haar hele lewe verander en sy daagliks teen negatiewe emosies geveg het.

Sy het die besluit geneem om te oorleef en die bewusmakingsveldtog, Shine the spotlight on survival, gestig om die soeklig op seksuele misdade te plaas. Sy sê dat die klem moet val op alle slagoffers: kinders, vroue en selfs mans.

Sy beplan om elke dag in September 27 km te stap om haar 27 jaar van oorlewing te herdenk. Die veldtog sal by verskillende plekke aangebied word en sy sal ook tydens die veldtog broodnodige geld insamel sodat slagoffers die nodige berading en ondersteuning kan ontvang.

Kuter begin op Maandag 16 September in Pretoria met haar staptog, waarna sy van 17-20 September by die ATKV Klein- Kariba, asook die ATKV Die Eiland vakansieoord sal aandoen en oornag.

Die veldtog word oor 27 dae bepl;an en Kuter sal vyf provinsies in hierdie tyd besoek.

Sy sluit haar veldtog op Saterdag 12 Oktober in Ruimsig, Johannesburg, af. Sy hoop om in hierdie tyd talle slagoffers op te hef en oorwinning by hul tuis te bring, het Kuter gesê.

Sy nooi mense uit om saam met haar aan die staptog deel te neem.

Vir meer inligting en hoe om tot die veldtog by te dra, kan mense die webtuiste www.backabuddy.co.za/champion/project/leilani-kuter of Kuter se Facebook-blad, Kuterkat74, besoek.

Om aan die staptog deel te neem kan mense ’n Whatsapp-boodskap stuur na tel. 071 883 3346.

Related Articles

Back to top button