Local newsNews

Jagter sterf ná ernstige beserings

FC Prinsloo, ’n beroepsjagter van Modimolle, is dood ná ’n 11 dae lange stryd om oorlewing nadat ’n buffel hom ernstig beseer het.

Die 43-jarige Prinsloo van Bushman’s Quiver Safaris is op Dinsdag 13 Augustus onverwags deur ’n buffel stormgeloop wat hom teen die grond vasgedruk het. Die voorval het in die Makuya-reservaat naby die Krugerwildtuin gebeur terwyl Prinsloo op soek was na tekens van olifante.

Hy is met groot moeite deur Stefan van der Merwe, die eienaar van die onderneming, en van die spoorsnyers, op ’n draagbaar van takke uit die bergagtige gebied gedra voordat hy per helikopter na mediese hulp gebring kon word.

Prinsloo, wat sedert die voorval waarin hy ernstige borsbeserings opgedoen het, onder sterk verdowing was, is in die provinsiale hospitaal in Polokwane opgeneem. Dokters het sy wonde tydens verskeie operasies geheg en infeksie probeer teëwerk. Hy is egter op Saterdag 24 Augustus oorlede.

Sy vrou, Estelle, het hom deurentyd in die hospitaal bygestaan.

Inwoners, jagters van regoor die wêreld asook lede van die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika het geld ingesamel in die hoop dat Prinsloo, wat nie aan ’n mediese fonds behoort het nie, na ’n privaat hospitaal verskuif kan word, maar hy was te swak. Volgens sy broer, Johan Prinsloo, was privaat dokters deurentyd in kontak met die mediese personeel wat hom versorg het om bystand te bied.

“Dit is vir ons ’n tragiese verlies. FC was ’n geliefde mens en gaan ’n groot leemte in ons lewens laat. Estelle het hom so mooi bygestaan in die hospitaal, al was hy tot op die laaste onder verdowing,” het hy gesê.

Prinsloo het in die Rust de Winter-omgewing grootgeword en sy skoolloopbaan aan Laerskool Eugène N. Marais en Hoërskool Hans Strijdom voltooi. Hy was in die vervoerbedryf voordat hy tydens ’n jaar se werk in Amerika kennis gemaak het met die jagbedryf. “FC het ’n groot liefde vir die veld gehad en om met veldfietse te ry,” het Johan gesê.

Hy laat sy vrou, Estelle, ouers Johan en Nicolene, broer en skoonsuster Johan en Mari agter.

’n Troosdiens word op Donderdag 5 September om 11:00 by die Fokus Deo-gemeente in Modimolle gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button