MunicipalNews

Vuurwarm bewerings in forensiese verslag

Die put van finansiële verval blyk bodemloos te wees vir die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit nadat Eskom kennis gegee het dat die munisipale skuld aan die kragverskaffer vanaf R250 miljoen verlede jaar tot meer as R400 miljoen gestyg het.

Dit is in die lig hiervan dat inwoners, asook politici, die nuus dat ’n forensiese verslag na die geldsake van die munisipaliteit binnekort beskikbaar sal wees, met ope arms verwelkom het.

Raadslede het verlede jaar in Augustus eenparig gestem dat ’n forensiese ondersoek die munisipaliteit se geldsondes moet oopkrap.

Die verslag is nog nie amptelik beskikbaar nie, maar die hoofstroommedia het reeds oor aspekte daarvan berig. The Citizen, ’n dagblad in dieselfde stal as Die Pos, het vandeesweek berig dat die verslag ’n rits korrupte aktiwiteite blootgelȇ het. Daar word beweer dat miljoene rande aan maatkappye uitbetaal is wat geen diensleweringskontrakte met die munisipaliteit gehad het nie. Daar is glo ook nie enige fakture vir die transaksies beskikbaar nie.

Volgens die verslag kan die munisipaliteit nie vasstel aan wie verskeie van die bedrae uitbetaal is nie omdat daar 539 transaksies is wat net as “elektroniese oorbetaling” gemerk is.

Die DA en sy koalisie-vennote, die VF-Plus en die EFF, het die tesourie versoek om die ondersoek te gelas. Die DA is saam met dié twee partye sedert die 2016-munisipale verkiesing aan die stuur van die munisipaliteit. Die munisipaliteit is tans onder administrasie weens sy benarde finansiële toestand.

Een van die maatskappye wat in die verslag daarvan beskuldig word dat hulle glo op ’n onreëlmatige wyse voordeel getrek het, is Legodi Prokureurs, het The Citizen berig. Tumi Mokwena, voorheen Julius Malema van die EFF se regsverteenwoordiger, is een van die maatskappy se direkteure. Legodi Prokureurs het na bewering instruksies ontvang om die munisipaliteit se regsake te behartig, hoewel die firma nie op die databasis van diensverskaffers gelys was nie. Luidens die verslag is Legodi Prokureurs tussen Junie 2017 en Mei 2018 sowat R9,3 miljoen vir regsake betaal.

Die Pos het in Mei verlede jaar navrae oor dié beweringe aan Mokwena gerig. Hy het op daardie stadium geantwoord dat die beweringe “slegs politieke speletjies is waaraan hulle nie sal deelneem nie”. Hy het gesê sover dit hulle aangaan, is hul aanstelling bo verdenking en alle nodige dokumentasie is ingedien.

Die aanbeveling in die forensiese verslag is dat ’n kriminele klagte teen die firma gelȇ word vir bedrog omdat daar glo verskeie verdagte fakture is wat hulle nie kon verduidelik nie. Floyd Legodi van Legodi Prokureurs het aan News24 gesȇ dat hulle wel op die paneel van diensverskaffers was en dat hy bewyse daarvan het. Hy het ook gesȇ dat hy nie eens geraadpleeg is tydens die samestelling van die verslag nie.

Daar is vingers na verskeie ander mense gewys. Die Pos sal verder hieroor verslag doen sodra die forensiese verslag beskikbaar is.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, sal die LUR van die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) die verslag aan die raad voorlȇ en kan sy nie kommentaar lewer voordat dit gedoen is nie.

“Ek is baie opgewonde dat dit uiteindelik beskikbaar is en wag gretig vir die LUR se voorlegging. Ek is vol vertroue die raad sal die voorstelle aanvaar en dat indien enige amptenare geïmpliseer word, hulle verantwoordelik gehou sal word as die oortredings bewys kan word,” het sy gesȇ.

Related Articles

Back to top button