Local newsNews

Myn moet weer gaan dink oor aansoek

Verteenwoordigers is daarvan beskuldig dat hulle nie “hul huiswerk” vooraf gedoen het nie.

Die verteenwoordigers van Singo Consulting (Pty) Ltd. is op Saterdag 24 Augustus tydens die openbare deelnamevergadering deur die Drooggekloof-inwoners uitgeboul toe dié maatskappy hul prospekteringsplanne aan die vergadering wou voorhou.

Die verteenwoordigende konsultante van Vharanani Mining (Pty) Ltd. het grondeienaars ontmoet om hul insette te kry oor die beoogde prospektering van chroom en platinum in die omgewing.

Vharanani het sy oog op Drooggekloof KR 471, ongeveer 20 km buite Bela-Bela op die Thabazimbi-pad. Dit sluit 121 eiendomme in.

Eienaars het in groot getalle by die vergadering in die onthaalarea van die Baja Plaas-gastehuis opgedaag.

Dit was van meet af aan duidelik dat kundiges oor regs- en grondkwessies deel uitmaak van die grondeienaars in dié omgewing.

Die konsultante is daarop gewys dat wetgewing bepaal dat grondeienaars eers toestemming moet gee voordat daar op hul grond geprospekteer kan word. Die meerderheid het aangedui hulle is nie ten gunste van dié planne nie.

Foute is ook uitgewys oor die kaart van die beoogde gebied wat deur die konsultante uitgedeel is.

Sowat tweederdes van die Drooggekloofgebied is ’n ekologiese ondersteuningsgebied en geniet unieke biodiversiteitstatus. Eienaars en kundiges het daarop gewys dat dié sonering die gebied beskerm en dat geen prospektering dus daar kan plaasvind nie.

Volgens die kaart is die gebied waar die prospektering beoog word in die bergagtige deel waar dit baie rotsagtig en die omgewing nie geskik is vir die aanplant van gewasse nie.

Van die eienaars het gemeen die mynonderneming sal daarom sukkel om minerale te ontgin en bedryfskoste sal verhoog.

Inwoners het ook melding gemaak van ander mynondernemings wat vroeër probeer het om minerale in die omgewing op te spoor, maar almal was onsuksesvol.

Die konsultante se voorlegging en hul navorsing is deur die vergadering as “bloot ’n kopie van ’n vorige projek” bestempel. Die verteenwoordigers is ook daarvan beskuldig dat hulle nie “hul huiswerk” vooraf gedoen het nie. Hierdie opmerkings is gemaak nadat ’n konsultant van die Vharanani-myngroep gesê het hul het geen data wat bevestig of daar wel mineraalneerslae in die omgewing is nie. “Maar ons is hier om dit uit te vind,” het hy gesê.

Die vergadering het aan die konsultante kennis gegee dat hulle van die 30 dae kennisgewing-tydperk gebruik sal maak en dat hulle skriftelik kommentaar aan Singo Consulting (Pty) Ltd. sal verskaf voor dié afsnydatum.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button