BlogsOpinion

Terug na die ou tyd

My ouers was toe tóg al die tyd reg: Daardie lessenaartjie uit plankies wat ’n mens uit die boks haal en self aanmekaarslaan, hou net so tien jaar.

Is dit net ek, of is daar ’n geneigdheid om terug te keer na die heilsaamheid van die “goeie oue tyd”?

Ná dekades van kitsvervaardiging en plastiek is dit asof mense begin besef: My ouers was toe tóg al die tyd reg: Daardie lessenaartjie uit plankies wat ’n mens uit die boks haal en self aanmekaarslaan, hou net so tien jaar. Kostuumjuwele slaan uiteindelik swart aan of breek sommer.

 

Daardie stapels borde wat R10 elk gekos het, is toe ná ’n jaar almal “gechip”. Antiekmarkte, tweedehandse winkels en veilings is deesdae dié plek om te wees om die eenvoudige rede: Gehalte teen bekostigbare pryse. Die ekonomiese knyptang waarin die land hom bevind, maak dat niemand meer lus is om geld uit te gee op iets wat nie gaan hou nie.

Daarom vryf ons verwonderd ons handpalms oor die grein van ’n stewige kombuistafel uit die vorige eeu. Daarom begin ons weer wol koop en brei en hekel vir ’n vale wanneer ons hoor daar is ’n baba in die familie op pad. Daarom lê ons groentetuine aan en spog op sosiale media met ons eerste klein radyse en spinasieblare.

Daarom vra ons mekaar opgewonde uit oor inlêresepte en koop weer Consol-bottels sodat vandag se oordaad vir môre se maerjare gebêre kan word.

Daarom skep ons Sondae vir ons liefmense kookkos uit ons oumas se opskepbakke wat ná dekades se gebruik nog sonder krake is.

Daarom begeer ons nie meer blou swembaddens met baie onderhoudswerk nie, maar koel, rooi stoepe waar ons langbeen kan sit en gesels.

Daarom laat ons ons nie meer verlei deur brosjures van peperduur eksotiese eilande nie, maar trek die padkaart nader en laat ons vingers gly oor plekke met name soos Calvinia, Vosburg, Rosendal, Koffiefontein, Strydenburg.

Daarom glimlag ons as die jonges Abba en Freddie Mercury luister. Of wanneer hulle digbundels en skrywers uit ons jeug ontdek.

Soos nou een dag toe die tienerkind onverwags kom sê: “Ek het die mooiste woorde by die skool gekry,” terwyl sy haar prosa- en poësieboek oopvou. “Die ou se naam is Koos du Plessis; weet Mamma wie dit is?”

Jy lag en sê ja, jy weet nogal wie dit is; maar sy kan maar voorlees dat jy kan luister:
“Jou beeld is ’n verflenterde foto,” lees sy,
“in ’n skewe, versplinterde raam
en ’n sestal geskommelde letters
spel jou tweelettergrepige naam …”

En omdat dit ook vir haar so verskriklik hartroerend mooi is, weet jy hoekom plastiek — in al sy verskillende gedaantes — op die ou end nie gaan seëvier nie.

En daarom sê jy vir die kind in mooi stadige, outydse taal: “Ek het jou lief. Ek het jou lief soos hierdie gedig.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button