Brandbane steeds nie om munisipale grond gemaak
Die Bela-Bela-munisipaliteit het ná talle versoeke en druk uit die gemeenskap steeds nie brandbane om sekere belangrike munisipale grond aangebring soos deur die wet vereis word nie.
Die nasionale brandverbod op die maak van oop vure is reeds sedert einde Mei van krag. Grondeienaars kan dus nie meer brandbane met vuur maak nie. Alternatiewe metodes moet nou gebruik word.
Die wet bepaal ook dat enigeen wat oop vure maak, nou vervolg kan word.
Die eiendomme waaroor veral kommer heers, is die munisipale grond wat langs die Alma-pad naby die dorpsdam geleë is.
Die nasionale brandwet vereis dat enige grondeienaar of amptenare wat in beheer is van grond in regeringsbesit of die bestuur van grond in privaat besit, jaarliks voor die spertyd brandbane om hul eiendomme moet aanbring. Brandbane se doel is om wegholbrande te beheer en te bekamp.
’n Brand het op Vrydag 16 Augustus in die opvangsgebied van die dorpsdam uitgebreek. Die Pos was op die toneel. Die brand was te hoog op teen die hange van die berg om deur die brandweerdienste bereik te word.
Volgens Chris Wagner, voorsitter van die Waterberg-bewaringsforum, het hulle reeds op verskeie geleenthede hul kommer onder die aandag van die munisipale bestuur gebring. Hulle het die bestuur daarop gewys dat wegholbrande in die opvangsgebied van die dam die grondoppervlak só kan beïnvloed dat reënwater in die volgende seisoene net sal wegspoel en nie die grond diep genoeg sal kan binnedring om die ondergrondse watertafel natuurlik aan te vul nie.
Die forum wys ook daarop dat die risiko vir vloede vanaf die hoë hellings op die omliggende berggebied al hoe groter word en dit ’n gevaar kan inhou vir die informele nedersetting, Koppewaai, asook Spa Park, wat aan die gebied grens.
Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), het aan Die Pos gesê die forum se regsverteenwoordiger het nou ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin hulle ingelig word dat hulle aanspreeklik gehou sal word vir enige skade wat deur brande wat op munisipale grond ontstaan, veroorsaak word.
Die BBTF voer aan dat die munisipaliteit se versekeraars in sulke gevalle nie eise sal uitbetaal indien die munisipaliteit versuim het om brandbane volgens wetlike voorskrifte te maak nie.
“Die munisipale bestuurder kan kragtens wet persoonlik aanspreeklik gehou word indien brandskade ontstaan,” het Mills gesê.
Die BBTF beoog om slagoffers wat brandskade gely het weens brande wat op munisipale grond ontstaan het, by te staan in die regsproses. Die BBTF is voorts bereid om as getuies in hofsake op te tree, het hy gesê.
Die Pos het Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, vir kommentaar genader. Volgens Masito was die munisipaliteit die afgelope paar maande met die munisipale grondoudit besig en die opgawe is nou voltooi. Hulle beoog nou om in September brandbane in die Vingerkraal-omgewing te begin, waarna hulle na ander gebiede sal uitbrei.