Local newsNews

Datum vir myn se publieke deelnameproses bekend

Voorgeskrewe regulasies vir prospekteringsaansoeke bepaal dat die aansoeker hul voorneme om te prospekteer deur middel van kennisgewings bekendmaak en daar is ’n minimum tydperk aan die kennisgewing vir kommentaar deur alle belanghebbendes.

Die openbare deelnameproses oor ’n prospekteringsaansoek in die Drooggekloof-omgewing buite Bela-Bela vind om 10:00 op Saterdag 24 Augustus by die Baja Plaas-gastehuis in die Droogge-
kloof-omgewing plaas.

Vharanani mining (Pty.) Ltd, ’n mynonderneming van Pretoria, het vroeër ’n aansoek by die departement van minerale hulpbronne ingedien om vir chroom en platinum op die plaas Drooggekloof 471 KR te prospekteer.

Kennisgewings van die aansoek is reeds onder Drooggekloof-inwoners versprei. Inwoners en eienaars kon hulself as geaffekteerde partye registreer en kommentaar aan Singo Consulting (Pty.) Ltd. stuur.

Dit blyk egter dat daar wysigings aan die aanvanklike kennisgewing gebring is. Die aanvanklike sperdatum is as Sondag 28 Julie aangedui.

Voorgeskrewe regulasies vir prospekteringsaansoeke bepaal dat die aansoeker hul voorneme om te prospekteer deur middel van kennisgewings bekendmaak en daar is ’n minimum tydperk aan die kennisgewing vir kommentaar deur alle belanghebbendes.

Die regulasies bepaal verder dat die aansoeker die keuse het om die kennisgewing op drie maniere te plaas: in ’n plaaslike koerant, die provinsiale staatskoerant of op openbare kennisgewingborde. Sover vasgestel kon word is daar geen plaaslike kennisgewing op hierdie drie maniere versprei nie.

Nefale Masindi van Singo Consulting het by navraag gesê dat hulle die kennisgewing reeds in Junie in ’n koerant wat in Polokwane versprei word, geplaas het.

Die Pos het op Woensdag 15 Augustus’n nuwe kennisgewing vanaf Singo Consulting ontvang vir kommentaar. Die sperdatum is verander na Woensdag 28 Augustus.

Die Pos het bevestig dat die omgewingsimpakstudieverslag wel by die munisipale biblioteek in Molotostraat in die Bela-Bela-township beskikbaar is.

Mense kan die dokumente nagaan en hul kommentaar voor of op Woensdag 28 Augustus aan Singo Consulting stuur, lui die nuutste kennisgewing.

Vir verdere navrae kan mense Singo Consulting kontak by tel. (013) 692 0041 of vir Masindi ’n e-pos te stuur by masindi@singoconsulting.co.za(.)

Mense kan Vharanani kontak by (015) 295 6085 of ’n e-pos stuur na david@vharanani.com(.)

Related Articles

Back to top button