MunicipalNews

Raad hoor oor planne met elektrisiteit

Die raad van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het op Woensdag 14 Augustus ’n spesiale raadsvergadering gehou.

Een van die besprekingspunte was die langverwagte forensiese verslag na beweerde korrupsie in die munisipaliteit. Raadslid Johann Abrie het gesê die munisipaliteit het lank gesukkel om die verslag onder oë te kry. Hulle het toe gehoor dat dit maande lank reeds by die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings (CoGHSTA) ingedien is. Abrie het daarop aangedring dat inwoners moet weet wie die munisipaliteit se geld gesteel het.

Dingaan Motshwene, speaker, het gesê ’n spesiale raadsvergadering sal belê word sodat die betrokke LUR die verslag met die raad kan bespreek.

’n Voorstel deur Marlene van Staden, burgemeester, dat die raad korttermynkredietgeriewe teen R30 000 per dorp by plaaslike verskaffers aangaan om dienslewering in tye van nood te bespoedig, is deur die raad verwerp. Raadslid Klaas Mabunda het sy kommer uitgespreek dat die rekeninge kan handuitruk. Van Staden het egter gesê dat die munisipale bestuurder maatreëls in plek kan stel om dit te verhoed. Die EFF het buite stemming gebly terwyl die agt DA- en VF Plus-raadslede ten gunste van die voorstel was en 10 ANC-raadslede gekant was daarteen.

Nog ’n onderwerp wat bespreek is, is die rol wat EMS Lingani sal speel om die elektrisiteitsprobleem op die dorp te hanteer. Volgens Melusi Mhlanga, munisipale bestuurder, word daar volgens hul drie jaar ooreenkoms nie werkers aangestel nie, maar sal die munisipale werkers, wat deur EMS Lingani opgelei en ondersteun word, gebruik word. Die maatskappy sal in Oktober ’n verslag voorlê oor die status van die elektrisiteitsnetwerk.

’n Verbruikersportaal sal ook geskep word waar inwoners deur SMS’e of ’n oproep klagtes kan indien en dan ’n verwysingsnommer kry. Volgens die ooreenkoms sal elektrisiëns elk ’n tablet-rekenaar ontvang en wanneer daar ’n nuwe opdrag is, sal hulle die presiese GPS-ligging ontvang. Sodoende kan daar ook tred gehou word met waar die werkers hulself bevind. Elke transformator en minisubstasie se koördinate sal vasgestel word om beter beheer uit te oefen.

Daar word ook gekyk na ’n amnestie-tydperk waar inwoners elektrisiteitsmeters wat oorbrug is, kan aanmeld sonder dat daar nagevolge is.

“Die munisipaliteit moes self meer as 1 000 meters oorbrug omdat hulle nie herstel kon word nie,” het Van Staden gesê.

In dié tydperk sal gebreekte meters vervang of herstel word.

Nog een van die planne om beter beheer oor die elektrisiteitstelsel te hê is om meters by die substasies te installeer.

“Sodoende kan ons verifieer hoeveel elektrisiteit ons van Eskom ontvang, maar ook weet hoeveel elekrisiteit elke minisubstasie aan sy deel van die dorp verskaf.”

Related Articles

Back to top button