Local newsNews

Mearle maak al meer as 30 jaar matriekafskeidsdrome waar

“Ek sit ure se werk in. Ek gee my álles en soms is die oomblik te groot as ek sien hoe pragtig die meisies lyk.”

Sy is ’n “rokmaker”; nie ’n “ontwerper” nie, skerm Bela-Bela se onbetwisde matriekafskeid-koningin, Mearle Norman.

Norman, ’n haarkapper van beroep, maak al bykans 30 jaar lank matriekafskeid- en trourokke. As ’n mens reken dat sy soms tot 10 rokke per jaar maak, bestaan daar geen twyfel aan haar “ko-
ningingstatus” nie.

Dié rok, wat sy ’n paar jaar gelede vir Frances Coetser gemaak het, was vir Norman een van die grootste uitdagings. Dit was ontsettende harde werk en alles is met die hand gedoen om presies net soos — indien nie mooier nie — as die idee op Frances se prentjie te lyk.

 

Tog word dié vrou bewoë by die aanhoor van komplimente en vee sy kort-kort trane af as sy gekomplimenteer word. “Elke jaar as ek tussen die skare sit wanneer die meisies met hul rokke uitkom, is ek senuweeagtig,” bieg sy. “Ek sit ure se werk in. Ek gee my álles en soms is die oomblik te groot as ek sien hoe pragtig die meisies lyk.”

Sy vertel van een trourok wat sy gemaak het waarin daar 1,5 km (jip, kilometer!) se lap was wat alles met die hand in valletjies omskep moes word.

Dié lieflike groen rok van Jané van Schalkwyk was ’n groot uitdaging omdat die rug heeltemal oop was en dit dus perfek moes pas — sonder enige ondersteuning. En wat ’n pragstuk was dit nie!

 

Norman gaan saam wanneer die meisie haar materiaal kies, omdat sy weet watter materiaal om te kies en waar die beste plekke is om dit te koop. “As ek die lap sien wat gaan werk, vra ek die meisie om haar oë toe te maak en dan drapeer ek die lap om haar. Dit is die wonderlikste gevoel as sy haar oë oopmaak en ek kan sien sy is mal oor wat die spieël haar vertel. Dan kan ek behoorlik nie wag om die rok te begin maak nie.”

Hierdie rok van Bianca Winterbach is slim ontwerp sodat die bostuk en romp apart gedra kon word. Bianca het later dieselfde bostuk by ’n swart romp gedra, wat pragtig gelyk het.

 

Volgens Norman sal sy raad gee wanneer ’n meisie iets wil kies wat werklik nie by haar pas nie. “Ek wil trots wees op die rokke wat ek maak en ek wil hê sy moet ook trots wees op die rok wat sy op haar spesiale aand aantrek.”

“Ek probeer altyd die goue middeweg vind tussen wat die meisie graag wil hê en wat by haar postuur en haar ouers se beursie pas!”

Volgens Norman is sekere suiwer materiale peperduur, maar daar is tog nagemaakte materiaal soos kant van goeie gehalte. “’n Mens moet net weet waar om te soek.”

Dit was vir Norman heerlik om dié rok vir Kyla Van Aswegen te maak. Die hele illusie van ’n oop rug wat eintlik met kant bedek was, was die fokuspunt van die rok.

 

Hoe gouer matriekmeisies by hul ontwerper uitkom, hoe beter. ’n Mens het gewoonlik minstens drie aanpassessies nodig voordat die rok kant en klaar is.

En vanjaar se matriekafskeid? Sy wil nie te veel verklap nie, maar fluister darem dat daar meer as een van haar rokke op die loopplank by Hoërskool Hans Strijdom se matriekafskeid gaan wees.

En as sy ’n kans moet waag oor watter kleur vanjaar gewild gaan wees, huiwer sy eers voordat sy beslis sê: “Pienk. Pienk en vleeskleur.”

Related Articles

Back to top button