Local newsNews

Weermagveterane genooi om by vereniging aan te sluit

’n Loodsvergadering vir die stigting van ’n Suid-Afrikaanse Weermag-veteranevereniging tak is op Woensdag 17 Julie by die lapa van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle gehou.

Die Waterbergstreek het baie oud-Weermaglede en sal graag so ’n forum op die been wil bring.

Die vergadering is toegespreek deur Johann du Preez, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Weermag-veteranevereniging. Ongeveer 25 oud-Weermaglede het die vergadering bygewoon.

Die doel van die vergadering was om lede in te lig oor wat die vereniging behels en watter voordele dit aan oud-Weermaglede bied. Daar is ook gekyk na die moontlikheid om ’n struktuur aan te wys wat die vereniging in die Waterberg op die been kan bring en kan laat funksioneer.

Alle oudlede wat in die Weermag diens gedoen het, kan by die vereniging aansluit. Sodra ’n oudlid geregistreer is by die vereniging, kan die lid aansoek doen om lid te word van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se veterane-organisasie en toegang kry tot die SANW se pensioen- en mediese fonds. Willem Boshoff (Bossie) is aangewys as voorsitter van die Kranskop-eenheid met die doel om ’n bestuurspan saam te stel.

Limpopo is in vyf streke verdeel, waarvan Waterberg die suidelike streek is, met sy verskillende eenhede waaronder Kranskop die plaaslike eenheid is. Boshoff het sedertdien verskeie mense na ’n informele vergadering op Vrydag 9 Augustus genooi.

Alice Hanekom is aangewys as adjudant, ds. Willem Sauer as kapelaan, Willem van Deventer as kommunikasie-offisier en Gerrit Holtzhauzen as regiment-sersantmajoor. Die nuutgestigte bestuur het reeds verskeie planne om die eenheid uit te brei, soos onder meer om ’n eenheidswapen te ontwerp met Kranskop as tema, om ’n sosiale byeenkoms te reël vir lede wat reeds by die vereniging geregistreer is en om ’n volgende inligtingsvergadering te reël, waar oudlede van die Weermag by die vereniging kan registreer. Die registrasiefooi beloop R200 per jaar.

Oudlede wat belangstel om te registreer, kan vir Boshoff bel by tel. 082 884 2630 of vir Willem van Deventer by tel. 083 512 0014.

Related Articles

Back to top button