Local newsNews

Bye belangrik vir ekosisteem

“Dit is ons plig om na bye om te sien, want sonder hulle voortbestaan sal daar geen landbougewasse geproduseer word nie.”

Die Vroue Landbou-unie se Settlers-tak het op Dinsdag 6 Augustus ’n insiggewende praatjie oor die belangrike rol van bye in die ekosisteem bygewoon.

Dr. Adriaan du Toit, bekende omgewingskonsultant, was die spreker. Volgens Du Toit is daar meer as 4 000 spesies bye wat in Suid-Afrika voorkom en hiervan is die Afrika-heuningby die algemeenste in ons omgewing. Dié by is ook die aggressiefste soort by ter wêreld. Wanneer hulle bedreig voel, sal die hele nes kollektief optree en die vyand aanval. Dit is juis hieroor dat die spesie in Amerika as die “killer bee” bekend staan.

Droogte en veldbrande is van bye se grootste natuurlike vyande.

’n By leef net 40 dae, waarvan 20 dae in die nes is en dan die volgende 20 dae buite die nes. ’n Koninginby kan vyf jaar leef en die nes besluit self wie hulle die koningin maak deur feromone wat in die nes afgeskei word.

Die Springbokvlakte se klimaat is baie gunstig vir trekkende bye om winters te oorleef en hulle is veral lief daarvoor om in krake in die grond nes te maak.

’n Byekas kan in die winter sowat 5 000 bye huisves en in die somermaande kan daar tot 40 000 bye in wees. Bye is baie gevaarliker in die somer omdat die nes groter is en meer bye aanval as hulle bedreig word.

Du Toit het die vroue gevra om seker te maak van die gehalte heuning voor hulle dit koop. Baie ingevoerde heuning word bestraal en dit vernietig al die vitamienes en minerale. Koop eerder plaaslike heuning, is sy raad.

“Dit is ons plig om na bye om te sien, want sonder hulle voortbestaan sal daar geen landbougewasse geproduseer word nie. Hulle dra by tot voedselsekerheid in enige land,” het hy gesê.

Indien lesers las het van ’n swerm bye wat te naby aan die huis is, laat hulle deur ’n kundige verwyder. Moet asseblief nie gif gebruik nie, want bye is reeds ’n bedreigde spesie, het hy gemaan.

Related Articles

Back to top button