Skenkers hoor oor Kansa se planne om beter diens te lewer
“Ons is dankbaar dat soveel van ons skenkers die dag kon bywoon.”
Die nasionale hoofde van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het Limpopo onlangs besoek en die tak in Modimolle het hulle met ope arms verwelkom.
’n Geleentheid wat deur meer as 80 mense bygewoon is, is op Dinsdag 13 Augustus by die Abraham Kriel-kinderhuis se saal gehou.
Elize Joubert, die hoof- uitvoerende beampte van die organisasie, het baie inligting oor die bestuur van die organisasie, asook oor strategiese beplanning oor die hantering en insameling van geld, aan die gehoor gegee.
“Dit verg deeglike beplanning om as nie-winsgewende organisasie in die huidige ekonomiese toestande te oorleef. Dit is belangrik dat die skenkers weet hoe die organisasie met die skenkings omgaan,” het Wilna van den Heever, gemeenskapsmobiliseerder in Modimolle, gesê.
Kansa het die afgelope boekjaar ’n besondere groot hoeveelheid kankersiftingstoetse gedoen om die siekte vroegtydig op te spoor. Die mediese toerusting wat beskikbaar is en die ondersteuning wat daagliks aan pasiënte verleen word, was ook ’n verrassende statistiek.
“Ons is dankbaar dat soveel van ons skenkers die dag kon bywoon,” het Van den Heever gesê.
“Kansa kan nie voortbestaan as ons nie gebruik maak van talle vrywilligers wat hul spesiale vaardighede met ons deel nie. Ons is besonder trots op die groot hoeveelheid Waterbergers wat hulself beskikbaar stel in die veld waar hulle graag dienste wil lewer.”
Kansa se Waterberg-kantoor is in Friedbergweg 38 in Modimolle geleë.
Navrae kan gerig word aan Mariaan le Roux by tel. (014) 717 3950 of aan Wilna van den Heever by tel. 082 493 1884.