Boerevereniging hou weer geslaagde gholfdag
Die gewilde jaarlikse gholfdag van die Crecy-boerevereniging op die Springbokvlakte is op Vrydag 16 Augustus by die Euphorbia-gholflandgoed buite Mookgophong aangebied.
Die baan was vol en het weer vir groot ontspanning, hope pryse, gesellige samesyn en heerlike kos gesorg.
Die Crecy-boerevereniging is vir die sesde agtereenvolgende jaar as die Transvaalse Landbou-unie van Suid Afrika (TLU SA) se boerevereniging van die jaar aangewys.
“Ons het dinamiese boere wat baie goed saamwerk. Die Crecy-boerevereniging het vooruitgegaan in ’n tyd toe die landbouklimaat uitdagend geraak het. Ons is dankbaar vir ’n dinamiese voorsitter soos Floris Booysen wat die voortou by Crecy neem,” het De Wet Krüger, wat die bedankings gedoen het, gesê.
Krüger is ’n lid van die Potgietersrus DLU wat altyd help met die gholfdag se prysuitdeling.
Volgens Booysen was dit weer ’n geslaagde dag en 76 spelers het deelgeneem. Die geld wat ingesamel is, sal aangewend word vir die beveiliging van die gemeenskap in die Crecy-omgewing. Daar was ook twee “tolhekke” op die 16de en 17de putjies ten bate van die Naboom Tehuis vir Bejaardes.
Lambert Swarts was die speler wat die naaste aan die pen geslaan het en die span van Nylsvley het die gholf gewen. Altesame 15 sakeondernemings het die dag geborg. Pryse het selfs ’n vakansie ingesluit.
Connie du Toit en sy boeremusiekorkes het gesorg vir ’n vrolike atmosfeer.
Die dag is afgesluit met ’n potjiekoskompetisie en die Roedtan-suidspan se potjie het met die eerste prys weggestap.
Booysen het aan Die Pos gesê hulle het groot planne vir aanstaande jaar se gholfdag.