Vier vermeende winkelrowers wat die Exact-klerewinkel in Bela-Bela op Donderdag 8 Augustus beroof het, het gou hul rieme styfgeloop.
Volgens kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het vier mans en twee vroue om 10:30 by die winkel in Chris Hanistraat ingestap en die personeel aangehou.
Natasja Kemp, sekretaresse van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF), het met haar jong dogter in dié tyd by die winkel ingestap terwyl die roof afgespeel het.
“Al die personeel was agter in die winkel bymekaar en daar was nuwe gesigte wat ek nie herken het nie. Ek het die gevoel gekry dat iets fout was en het gemaak asof ek na die klere staan en kyk,” het Kemp gesê.
Die twee het sonder om agterdogtig te lyk die winkel verlaat en die polisie, asook die plaaslike reaksiespan, gekontak.
“Nadat ek dieselfde verdagtes verby my in die straat gesien stap het met ’n groot sak, is ek terug na die winkel. Ek het die personeel vasgebind in die agterste vertrek van die winkel gevind.
Ek is net dankbaar dat ek ’n beskermengel op dié dag gehad het. Niemand is beseer nie,” het sy gesê.
Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die winkelbestuurder het in sy verklaring gesê hy het geen vuurwapen by die verdagtes gesien nie.
Volgens Ngoepe het die verdagtes in twee voertuie, ’n wit Volkswagen Polo en swart Citi Golf, gevlug. Die gesteelde items het selfone, horlosies en beursies ingesluit.
Die polisie het dadelik aan die werk gespring en kort voor eenuur die swart Golf naby die Maubane-afrit op die N1-snelweg in die rigting van Pretoria ná ’n kort jaagtog van die pad getrek.
Die wit Polo is steeds nie gevind nie.
Vier verdagtes, Lerato Kgomo (33), Zandile (33) en Sibusiso (31) Hlatswayo, en Tshepo Mahlangu (33) het op Maandag 12 Augustus in die Bela-Bela-landdroshof op aanklag van roof en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom verskyn.
Ngoepe het gesê die vier word met ander rooftogte in verskeie provinsies verbind.
Die saak is uitgestel na Donderdag 22 Augustus wanneer hulle om borgtog sal aansoek doen.