Local newsNews

Tuiniers leer oor glibberige inwoners

Lede van die Nylstroom-tuinbouvereniging het vasgenael in hul stoele gesit tydens ’n praatjie oor iets wat Bosveldtuine gereeld sien: slange.

Slangkenner Ruan Venter het op Woensdag 31 Julie die tuiniers meer geleer oor dié tuinbewoners en hulle aangemoedig om die reptiele nie voor die voet dood te maak nie, maar eerder hulp in te roep om hulle te verskuif. Die groep het by die Shangri La-hotel byeengekom.

Venter het hulle ook touwys gemaak oor die gevaarliker lede van die slangfamilie. Volgens Venita Terblanche van die vereniging het hulle geleer dat die byt van ’n Mosambiekse spoegkobra ’n veloorplanting kan verg as die wond vererger en dat ’n boomslang se byt dodelik is.

Venter het hulle ook vertel hoe om die slange te identifiseer. Die swartmamba, die vinnigste slang ter wêreld teen 25 km per uur, het ’n kenmerkende swart bek. Die wipneus- of Egiptiese kobra is geel tot geelbruin met donker strepe op sy rug terwyl die pofadder kort en dik is, ligbruin met wit en bruin strepe. ’n Nagadder se kenmerkende eienskap is ’n V-teken op sy kop en ’n skerp snoet.

Die sypikslang woon in die grond en sy byt is nie dodelik nie.

Venter het gesê om slange op ’n erf te vermy moet erwe netjies gehou word. Water lok paddas wat op hul beurt weer slange lok.

Die vereniging vergader elke laaste Woensdag van die maand. Belangstellendes is welkom om in te skakel. Vir meer inligting, bel vir Venita Terblanche by tel. 082 872 8822.

Related Articles

Back to top button