NewsSchools

Gladse bekkie in die land behoort aan dié Nylie

’n Welsprekende matriekleerder aan Hoërskool Nylstroom het haar stem dik gemaak tydens die nasionale ATKV-redenaarskompetisie wat onlangs by Goudini Spa in die Wes-Kaap gehou is.

Lydia Mothapo het op Vrydag 2 Augustus die eerste plek ingepalm in die afdeling vir onvoorbereide toesprake in Afrikaans (eerste addisionele taal). Die onderwerp wat sy behendig aangepak het, was “Moet ’n kind in sy moedertaal onderrig word?”

Die afdeling vir onvoorbereide toesprake is ’n uitdagende een, het haar afrigter en onderwyser, Santie Gildenhuys, gesê. Die leerders kry drie ure om voor te berei vir ’n onderwerp wat aan hulle gegee word en kry toegang tot bronne en woordeboeke. Hulle kan kies of hulle ten gunste van die onderwerp is of daarteen standpunt wil inneem en moet tussen 3-6 minute lank met gesag daaroor kan praat.

Die onderwerp wat Mothapo ontvang het, het haar soos ’n handskoen gepas.

“Ek het my eie ervaring as voorbeeld gebruik. Ek praat Sepedi by die huis, maar floreer by my skool. Ek is vlot in Afrikaans en Engels. In ’n land met so baie tale, is moedertaalonderrig nie ’n opsie nie, want daar sal nie aan almal se behoeftes voldoen kan word nie,” het sy gesê. “Ek dink my eie ervaring het my meer insig oor die onderwerp gegee.”

As ’n mens haar uitvra oor haar passie, sê sy dat sy lief is daarvoor om nuwe dinge aan te leer, nuwe artikels te lees en meer uit te vind oor die wêreld. Dié slimkop het reeds aansoek by Wits en die Pukke gedoen om aanstaande jaar aptekerswese te studeer.

As ’n mens haar daaraan herinner dat Pravin Gordhan, die vuurvreter minister van openbare ondernemings, ook aptekerswese gestudeer het, lag sy verleë en bieg dat haar kop ook politiek toe staan.

Die skool het haar op Dinsdag 13 Augustus verras met ’n gerf blomme en ’n koek wat soos ’n oopgeslane boek lyk om dié uitsonderlike prestasie te vier.

“Ons is ontsettend trots op haar. Hoewel ons al talle leerders gehad het wat aan die nasionale ATKV-kompetisie deelgeneem het, is dit dit die eerste keer dat een van ons leerders wen,” het Gildenhuys gesê.

Related Articles

Back to top button