Local newsNews

Legendariese Coena sterf in heli-ongeluk

Die onverwagse dood van een van die Waterberge se legendes, die wildvanger Coena Smith snr., is met skok en hartseer deur inwoners ontvang.

Smith was landwyd in die wildbedryf bekend.

Smith (69) is Dinsdagoggend 30 Julie dood nadat sy Bell 47-helikopter oos van Alldays neergestort het. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Smith het glo saam met Dean Oosthuizen, ’n jong man van in sy twintigs, wild gevang op die plaas Tshwarelano buite Alldays. Volgens ’n man wat by die dokterspreekkamer in Alldays hulp verleen het, kon Oosthuizen uit die wrak klim nadat die helikopter neergestort het. Die helikopter het glo begin brand en hy het Smith uit die wrak getrek en hulp ontbied. Smith is daarna die sowat 30 km na ’n dokterspreekkamer in Alldays vervoer.

Op die foto is die wrak van die helikopter. Foto: Verskaf

 

Oosthuizen het glo laerugbeserings opgedoen en is per ambulans na ’n hospitaal in Polokwane geneem. Hy was volgens ’n bron teen druktyd in ’n stabiele toestand.

’n Nooddienshelikopter het Smith in Alldays opgelaai om na ’n hospitaal te vervoer, maar hy het ’n terugslag gehad en die helikopter moes omdraai. Hy is kort daarna oorlede ten spyte van paramedici se verbete pogings om sy lewe te red.

Coena Smith jnr. het aan Die Pos gesê sy pa se dood is ’n groot en onverwagse skok. “Ons troos onsself daaraan dat hy besig was om te doen waarvoor hy lief was. Hy het sy lewe in die bos geniet,” het hy gesê.

“My pa was ’n goeie leermeester vir ons en vir baie ander mense in sy lewe. Hy was meer as 45 jaar in die wildbedryf betrokke.”

Smith se seuns Janco, Ole en Coena Jnr. is ook betrokke in die wildbedryf.

Medelye het wyd op sosiale media ingestroom. Smith was, volgens diegene wat hom goed geken het, altyd bereid om hulp te verleen wanneer daar ’n krisis was.

Marlene van Staden, ’n Vaalwater-boorling en plaaslike burgemeester, het aan Die Pos vertel: “Die Mogolrivier het eenkeer afgekom en mense was in Groenfontein gestrand. Oom Coena het op en af met sy helikopter gevlieg om kos en mense heen en weer te karwei. Hy het nooit ’n sent daarvoor gevra nie.

“My ouers se plaas het een nag, terwyl hulle weg was, begin brand en die beeste was in gevaar. Ek het vir oom Coena gebel en hy het gesê ek moet ry om die vuurvegter te kom laai. Net voor 02:00 daardie oggend het hy gestaan en les gee hoe om dit te hanteer. Ons kon die beeste red. Sy afsterwe is ’n groot verlies vir die gemeenskap.”

Die Pos het in Maart 2014 berig hoe Smith in moeilike omstandighede 11 werknemers van die plaas Ka’Ingo met sy helikopter uit stormwater gered het toe die Mogolrivier afgekom en hul voertuig van ’n brug afgespoel het.

Related Articles

Back to top button