MunicipalNews

Al hoe meer inwoners kla oor vervalle muur

Daar is al gesê dat Bela-Bela “nie meer aantreklik vir toeriste is nie.

Die wit muur net buite Bela-Bela op die ou R101-pad raak al hoe meer vervalle en talle inwoners meen dit skep ’n swak beeld van die dorp.

Daar is tydens ’n onlangse vergadering van sakelui en gemeenskapsleiers wat die Bela-Bela-sakekamer wil laat herleef, onder meer gesê dat Bela-Bela “nie meer aantreklik vir toeriste is nie”.

Die verwaarloosde toestand van sommige geboue, swak toestand van strate, die ingange na die dorp wat vervalle is en die baie rommel wat nie verwyder word nie, dra volgens inwoners by tot dié gevoel.

Sover Die Pos kon vasstel is dié muur destyds tydens die totstandkoming van die tans vervalle Royal Northlands Golf Estate gebou en sakelui is die geleentheid gebied om op hul eie koste advertensies op die muur aan te bring. Die muur was kleurvol en het getoon dat daar flink sake in Bela-Bela gedoen word.

Sakeondernemings moes egter later hul advertensies prysgee nadat die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) waarskuwingsbriewe aan sakelui gestuur het om dié advertensies te verwyder.

In die Sanral-dokument, waarvan Die Pos ’n afskrif besit, is die R101-pad in 2014 as ’n nasionale pad verklaar.

Die ondernemings se advertensies was volgens Sanral teenstrydig met wetgewing. Volgens die dokument is die nodige goedkeuring nooit verleen vir die aanbring van die advertensies nie.

Die muur het in Februarie 2014 strukturele skade opgedoen tydens baie swaar reën wat veroorsaak het dat ’n damwal meegegee en groot dele van Bela-Bela oorstroom het. Twee mense het destyds tydens die vloed gesterf.

Sommige sake-eienaars het daarna hul advertensies toegeverf.

Die muur het egter verder verval weens ’n gebrek aan instandhouding, verwaarlosing en die vernietigende werk van vandale.

Die Bela-Bela-polisie het aan Die Pos bevestig dat verskeie klagtes ontvang is van mense wat kortpad deur die Royal Northlands-grond vat en dan deur booswigte oorval en besteel word.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê omdat die muur deur die voormalige eienaars van Royal Northlands Golf Estate opgerig is, word dit, asook die aangrensende grond, steeds as privaat eiendom beskou. Die munisipaliteit kan dus volgens hom nie betrokke raak by die herstel of opgradering van die muur nie.

Mosito het voorts gesê hy het self deur verskillende kanale probeer om die oorspronklike eienaars van die grond op te spoor, maar tot dusver het die munisipaliteit se navrae nog geen vrugte afgewerp nie.

  • Die Pos het destyds berig dat dié uiters spoggerige gholflandgoed deur ’n Maleisiese konsortium opgerig sou word. Die Pos het oor die jare verskeie kere probeer om iemand op te spoor wat lig kan werp op dié vervalle ontwikkeling, wat nooit verder as sy imposante ingang gevorder het nie, maar kon nog nooit daarin slaag om iemand op te spoor nie.

Related Articles

Back to top button