Local newsNews

Sonstraalskool droom groot

Die grond is omhein en in hul naam geregistreer terwyl ’n boorgat ook gesink is.

Die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderwys in Modimolle koester hul droom van ’n volwaardige skool met ’n tehuis vir inwoners, werkwinkels en ’n siekeboeg vir sowat 120 liggaamlik- en verstandelik gestremde leerders, asook leerders met leerprobleme.

Die grond wat hulle wil ontwikkel, is agter die Abraham Kriel-kinderhuis in Olienhoutstraat geleë.

“Ons wag vir die finale goedkeuring van die bouplanne en dan moet ons nog meer geld insamel om ons droom te verwesenlik,” het Hantie van Aardt, skoolhoof, aan Die Pos gesê.

Maar hulle gaan nie stilsit tot dan nie. “Ons onmiddelike behoefte is om nog ’n klaskamer by die bestaande skool in Hans Campherlaan te bou,” het Van Aardt gesê.

Daar is reeds vyf klasse met sowat sewe kinders in elke klas. Die skool het tans sowat 40 leerders wat verdeel is tussen die skool en die tehuis in Magasynstraat.

“Ons is op soek na ’n huurhuis wat ons kan laat hersoneer as ’n tehuis waar van die leerders kan woon totdat ons eie tehuis gebou is,” het Van Aardt gesê. Van die skool se leerders is volwassenes van 20-50 jaar oud en die Sonstraalskool bied vir hulle ’n opbouende en versorgende omgewing. “Die ouers van volwasse leerders soek na ’n veilige tuiste vir hulle vir wanneer die ouerpaar wegval. Hulle wil weet dat hul kinders dan versorg sal wees. Die waglyste by tehuise in die stede is baie lank en dit is peperduur.”

Die skool is in 1996 begin nadat Santa Lourens, predikantsvrou van die Evangelies Gereformeerde Kerk in Modimolle , haar twee seuns — een gestremd en die ander aan die herstel ná ’n motorongeluk — in die kerksaal begin onderrig het. Kort voor lank het nog kinders by hulle aangesluit en van die Sondagskoolklaskamers is daarvoor ingerig.

Die skool het ook ’n beskuitbaksentrum in die kerk se kombuis begin om geld in te samel. Daar is besluit om nie net na die behoeftes van liggaamlik- en verstandelik gestremde leerders om te sien nie, maar ook kinders met leerprobleme te help.

Een van die oorspronklike Sonstralers wat sedert 1996 daar is, is steeds ’n leerder.

“Ons is bevoorreg om gekwalifiseerde onderwysers met baie jare se ervaring en simpatieke harte te hê wat deel is van die opvoedingspan. Ons volg die nasionale kurrikulum en pas dit aan om by elke kind se tempo en vermoë te pas. Ons gee praktiese opleiding soos naaldwerk, kookkuns, opleiding by kleuterskole, motorherstelwerk, swys- en houtwerk. Daar is ook lekker aktiwiteite soos perdry op Dinsdae en swem by die Weesgerus-vakansieoord in die somer,” het sy gesê.

Diegene wat meer inligting wil bekom of ’n bydrae wil maak, kan Van Aardt bel by tel. (014) 717 4331 of die webblad www.sonstralers.co.za besoek.

Related Articles

Back to top button