Local newsNews

Ma praat oor seun se MIV-lyding en dood

“My seun het stil in my arms gesterf,” het Rogers gesê. “Hoewel ek geweet het dit kom, wens ek dié ervaring niemand toe nie. My hart gaan uit na ouers en gesinne met gesinslede wat MIV-positief is.”

“Dit is só ’n hartseer en sensitiewe saak dat dit soms bykans onmoontlik is om aan iemand te verduidelik wat nog nie dié seer self ervaar het nie.”

Só vertel Marthie Rogers van Bela-Bela in ’n openhartige gesprek met Die Pos oor hoe haar gesin deur die aftakelende siekte menslike immuniteitsgebreksvirus (MIV) geraak is.

Rogers se seun, Bernard Smit (42), het in 2004 die skoknuus ontvang dat hy MIV-positief is.

Die virus breek die lyer se immuniteitstelsel af en die risiko vir siektes en infeksies verhoog.

Indien die lyer nie die nodige behandeling ontvang nie, kan dit tot die gevorderde siektetoestand verworwe immuniteitsgebreksindroom (vigs) lei.

Navorsing dui daarop dat die MI-virus slegs deur bloed en liggaamsvloeistowwe van persoon tot persoon oorgedra kan word.

“Bernard was voor sy diagnose op ’n jagtog en het skielik erge brongitis gekry. Ons het by die Warmbad-hospitaal die skoknuus gekry dat hy positief vir die virus getoets is,” het Rogers gesê.

Smit het streng by sy voorgeskrewe medikasie gebly, maar mettertyd het hy die gebruik van sy bene verloor en voltyds by sy ma gaan woon omdat hy nie meer sy beroep as loodgieter kon volhou nie.

Volgens Rogers was haar seun bekend as ’n lewendige en besige persoon, maar het hy vrede gemaak met die feit dat sy liggaamlike vermoeë ingekort is en hom al hoe meer beperk het.

“Daar was talle oomblikke waar die pyn hom aggressief en geïrriteerd gemaak het. Ek het hom so jammer gekry, want hy was teen die einde van sy lewe net vel en been. Hy het voor my oë weggekwyn” Terwyl Smit meestal tot sy bed beperk was, het hy begin skryf en baie gelees.

Die meeste van sy skryf- en dig-werk het gehandel oor sy persoonlike ervaring, die lewe en sy verhouding met die Here en Sy genade.

Veertien jaar nadat hy gediagnoseer is, is Smit egter in Oktober 2018 by sy ouerhuis in Bospoort, Bela-Bela, oorlede. Smit se vrou, Venessa (39), was ook ’n MIV-lyer en is in 2013 oorlede, het Rogers gesê.

“My seun het stil in my arms gesterf,” het Rogers gesê. “Hoewel ek geweet het dit kom, wens ek dié ervaring niemand toe nie. My hart gaan uit na ouers en gesinne met gesinslede wat MIV-positief is.”

Haar raad aan lyers is om toe te sien dat hulle genoeg eet en oefening doen, selfs al voel hulle nie lekker nie.

Sy beveel ook aan dat lyers hul voorgeskrewe antiretrovirale medikasie getrou moet neem. Versorgers moet lyers aanmoedig om dit nie op te hou gebruik nie, selfs al ervaar hulle newe-effekte, het Rogers gesê.

“Tot vandag toe kon niemand vasstel hoe en waar my seun die virus opgedoen het nie. Maar dit maak ook nie vir my saak nie, want wat moet ’n ma doen? ’n Ma gooi nie haar eie kind weg nie.”

  • Jeremiah Ngobeni, Bela-Bela-burgemeester, het onlangs self die Bela-Bela-kliniek besoek om ’n beroep op inwoners te doen om hul MIV-status te laat toets en die nodige behandeling te kry indien hulle positief daarvoor getoets word.

Related Articles

Back to top button