Sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het gesê ’n gesamentlike polisieoperasie, Tswara Tsotsi, is verlede week in samewerking met omliggende buurtwagte en die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) gehou.
Die operasiespan het Woensdagnag ’n voertuig met drie insittendes naby die teerpadkruising in die McKenzie-omgewing en die Mantsole-weegbrug voorgekeer.
Maponya het gesê twee van die insittendes het uit die voertuig gespring en op die vlug geslaan, waarna die polisie die voertuigbestuurder in hegtenis geneem het.
By nadere ondersoek is daar op drie sakke koperkabels en ander koperprodukte in die voertuig se kattebak afgekom. Die koper is vermoedelik gesteel.
Die verdagte, Jonas Mutileni Resenga (35), het aan die polisie gesê dat hy van Modimolle na Pretoria onderweg was, het Maponya gesê.
Resenga het op Vrydag 19 Julie in die Bela-Bela-landdroshof verskyn.
Hy is op borgtog vrygelaat en moet weer op Woensdag 14 Augustus in die hof verskyn.
Die polisie het op die voertuig beslag gelê vir verdere ondersoek, het Maponya gesê.