Pieter Raath, Bela-Bela, skryf:
Wil iemand nie in hemelsnaam ingryp en aan die personeel by Bela-Bela se lisensiekantoor die begrip dienslewering verduidelik nie.
Ek het ’n paar maande gelede die urelange proses deurgemaak om my bestuurslisensie te hernu ten spyte van die oogtoetsmasjien wat buite werking was, net om te hoor dat daar nie papier is om tydelike lisensies te druk nie.
Met my derde probeerslag het ek uiteindelik my tydelike lisensie gekry en ’n paar maande later was ek terug om my lisensie af te haal. Die ontvangsdame het my na die laaste toonbank verwys, maar daar moes ek hoor hulle is met ete en sal om 14:00 terug wees. Ek het geduldig gewag terwyl die tou na die ander twee toonbanke stadig verbygeskuif het. Om 14:15 het daar nog niks gebeur nie en ek het vorentoe gestap om navraag te doen.
Ek het gesien dat die eerste toonbank intussen oopgemaak het, maar ek is uiters onbeskof deur ’n beampte weggewys wat blykbaar net gesit en wag het vir die volgende slagoffer om af te jak terwyl ’n lang tou mense gefrustreerd gewag het om bedien te word.
Terug by ontvangs moes ek hoor dat ek by enige van die ander twee toonbanke gehelp kan word. Ek het weer in die tou geval, maar toe sluit een van die twee amptenare haar toonbank en ek het besef dat ek nooit voor sluitingstyd gehelp sal word nie. Ek het uiteindelik uiters gefrustreerd uitgestap en gewens dat ek soos Simson die pilare op die plek kon omtrek.
Die Vrydag om 12:00 was ek terug, net om te sien dat ’n lang tou mense reeds voor die stel toe toonbanke gewag het. Ek het gevra wat aangaan en die persoon by ontvangs het gesê ek moet liewer teen 14:00 terugkom, want hulle hou ’n vergadering en hy het nie geweet hoe lank dit sou duur nie.
Ek maak nou moed bymekaar vir my derde probeerslag. In ’n land waar ’n mens al gewoond geraak het aan swak diens, staan die Bela-Bela-lisensiekantoor sekerlik kop en skouers bo almal uit as die heel swakste.