Gegriefde bejaarde, Mookgophong, skryf:
Ons dorp word toenemend ’n onaangename, onveilige woonplek, veral vir bejaardes.
Ons sypaadjies is onveilig vir bejaardes weens talle fietsryers wat soos besetenes tussen voetgangers deurvleg. ’n Mens moet veral waaksaam wees by winkels se uitgange.
Dan is ons hoofstraat ’n renbaan wat deur reisigers en inwoners misbruik word. Almal weet daar is in jare geen spoedlokvalle gestel nie en daarom jaag hulle na hartelus voort. Alle verkeerstekens word na willekeur verontagsaam en daar is geen wetstoepassing nie.
Gerugte loop sterk dat daar nie geld is om boeke met boetekaartjies aan te koop nie. Dit maak die verkeersafdeling oorbodig.
Ten spyte van al die beloftes sukkel ons ook steeds met watervoorsiening. Hierdie probleem sleep al etlike jare voort en ek glo dit sal nooit opgelos word nie. Ons word heeltyd wolhaarstories gevoer. Die raadslede se beloftes word nie waar nie en ons weet nie meer wat om te glo nie.
Daar is heeltyd boorgate wat buite werking is en onwillige kontrakteurs.
Ons dorp se inwoners bestaan hoofsaaklik uit bejaardes wat moet meet en pas met ons pensioengeld. Die vergunning van die munisipaliteit vir afslag aan bejaardes wat daarvoor kwalifiseer, realiseer nie. Ons doen aansoek, maar wag al jare vir dié vergunning.
Etlike jare gelede het ’n blou golf ons dorp met groot fanfare getref. Dinge het aanvanklik belowend gelyk en daar is baie beloftes gemaak, maar die uitkoms is teleurstellend.
Ons gly al vinniger in ’n donker gat in. Dit voel asof daar geen hoop is nie. (Brief verkort. — Red.)