![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/134/2019/07/plig-vuur.jpg)
Chris Wagner, Bela-Bela, skryf:
Ek verwys na Die Pos se artikel van Vrydag 19 Julie 2019 oor die beplande brand van munisipale grond om sogenaamde veiligheidsredes.
Die Bela-Bela-brandbestrydingsvereniging kan ongelukkig nie sy toestemming verleen vir dié beoogde ondeurdagte oefening nie.
Dit is alombekend dat die brandvereniging, in belang van die dorp se inwoners, die natuurskat van die Waterberg in en rondom Bela-Bela in terme van die “Boswet” teen brandgevaar beskerm en sal aanhou beskerm.
Dit is ’n belangrike vereiste van die wet dat elke grondeienaar sy of haar grond en hul bure s’n met behoorlike brandbane moet beveilig. Die plaaslike munisipaliteit het nog altyd in gebreke gebly hiervan ten opsigte van die grond onder sy beheer.
Ons natuurskat is en bly die belangrikste, en dalk enigste, trekpleister vir beleggers.
Die emosionele bevrediging wat die ongerepte natuur aan inwoners en besoekers verleen, is weergaloos.
Die betrokke stuk grond behoort aan die Bela-Bela-munisipaliteit en, afgesien van dié versuim, moet hy ook behoorlike beheer daaroor uitoefen soos deur omheining en deurlopende patrollies, asook om enige betreders vas te vat.
Die wet op betreding is tot die beskikking van elke grondeienaar en kan met positiewe en daadwerklike samewerking van die polisie en howe afgedwing word.
Die berig wys inderwaarheid die munisipaliteit se skokreaksie en pligsversuim uit waaruit gevolge kan spruit waarvoor niemand op die ou einde verantwoordelikheid sal aanvaar nie.
Die vraag wat beantwoord moet word, is of ons nou die Waterberg-Bosveld tot op die grond moet afbrand weens ons pligsversuim omdat daar ’n moontlike boef agter elke bos mag skuil.
Nee wat, laat elkeen sy plig doen en dan is desperate optrede met vernietigende gevolge nie nodig nie.