Local newsNews

Ma en dogter se liggame in uitgebrande voertuig gekry

Inwoners van die omgewing het gesê hulle het geluide gehoor en rook geruik, maar hulle wou nie in die donker uitgaan nie.

’n Op-en-wakker inwoner van die Eersbewoond-omgewing het op ’n ontstellende toneel afgekom nadat hy ondersoek ingestel het na ’n uitgebrande motor wat langs die pad gestaan het.

Binne-in die motor was die erg verbrande liggame van twee mense.

Die blokvoorsitter van die gemeenskapspolisiëringforum (GPF) in dié omgewing, wat verkies het dat sy naam nie genoem word nie, het op Saterdagoggend 13 Julie gery om werkers op te laai. “Ek het gesien dat die gras langs die pad gebrand het en was verbaas omdat niemand iets op een van die veiligheidsgroepe laat weet het nie aangesien dit brandseisoen is. Ek het met die terugkomslag van die pad getrek en die motor teen die grensdraad gesien staan. Toe ek dit van naderby bekyk, het ek besef daar is twee mense binne-in en dadelik die polisie geskakel,” het hy gesê.

Die wit Hyundai-motor was op die Eersbewoondpad, sowat 1 km weg van die R101. Volgens die polisie het die voorval ongeveer 03:50 plaasgevind.

Inwoners van die omgewing het gesê hulle het geluide gehoor en rook geruik, maar hulle wou nie in die donker uitgaan nie. Hulle honde het ook aanhoudend geblaf.

Volgens AO James Findlay, woordvoerder van die Modimolle-polisie, was een van die liggame op die bestuurdersitplek en een op die agterste sitplek. Die twee mense is intussen geïdentifiseer as Mmantsane Kgopa en haar 10-jarige dogter, Rorisang. “Geen verdere inligting is op dié stadium beskikbaar nie. Die familie is erg getraumatiseer deur die voorval,” het hy gesê.

Die polisie se eenheid in Pretoria wat brande ondersoek, is ingeroep om die toneel te fynkam.

Kgopa het by die aankope- en storebestuurafdeling van die F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle gewerk, het Solomon Maphologela van die hospitaal gesê.

Hy het gesê die bestuur van die hospitaal is diep bedroef oor die treurspel.

“Ons het ’n toegewyde en hardwerkende personeellid verloor. Ons hoop dat God die familie sal versterk en vertroos gedurende hierdie moeilike tyd.”

Volgens Findlay duur die ondersoek voort en sal ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word.

Related Articles

Back to top button