Local newsNews

Oud-Warrie skitter as naaswenner in The Voice

Soné Joubert (26), oudleerder van Laerskool en Hoërskool Warmbad, het die land verlede Sondag 7 Julie aan haar voete gehad tydens die finale uitsending van die televisieprogram The Voice South Africa.

Joubert het algeheel tweede geëindig in dié gewildse sangkompetisie. Tasché Burger van Kaapstad is as wenner van die reeks aangewys.

In die laaste deel van die reeks was die deelnemers onder die mentorskap van Suid-Afrikaanse sanglegendes en het hul ook saam met dié ikone opgetree. Die beoordelaars en The Voice SA se afrigters Lira, Francois van Coke, Riana Nel en Riky Rick kon vir ’n wyle terugsit en die vrug op hul arbeid geniet. Die finale beoordeling is nie deur die mentors behartig nie, maar deur die publiek.

Joubert het die bekende Stuur groete aan Mannetjies Roux meesterlik saam met die ikoniese Laurika Rauch vertolk.

Die finale uitsending het gesorg vir vermaak van hoogstaande gehalte toe nie net Rauch nie, maar ook Judith Sephuma, Timothy Moloi, Jo Black en Roan Ash saam met die deelnemers opgetree het.
Caroline-Grace Brüssouw (wat saam met Johan “Fatman” Brümmer, ook van Bela-Bela, in die vorige reeks meegeding het), is ook genooi om as gaskunstenaar die gehoor te bekoor.

Die meesterlike vertolking deur al die finaliste en afrigters van Queen se bekende liedjie, We will rock you het kykers vinnig laat naderskuif vir die finale uitsending.

Volgens The Voice SA is 10 miljoen stemme vir al die deelnemers tydens die seisoen ingedien wat bevestig dat die reeks baie gewild in Suid-Afrika is.

Joubert het vroeër gesê The Voice SA is ’n asemrowende ervaring en sy is dankbaar om die geleentheid te kon hê om haar liefde vir Afrikaanse musiek uit te leef en te verbeter.

Haar ondersteuners het bankvas agter haar gestaan en haar lof op sosiale netwerke besing. Die aanbieder, Anelle, het ook tydens die opvoering gesê Joubert is ’n baie besondere mens, dat sy hardwerkend is en dat sy nederig gebly het.

Joubert het op Dinsdag 9 Julie in ’n amptelike Facebook-plasing haar familie, vriende en ondersteuners bedank wat haar tydens die reeks op die hande gedra het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button