Groothof het by navraag gesê ’n voormalige plaaswerker kan vermoedelik met die brand verbind word.
Die verdagte het glo petrolbomme in een van die plaasstore gegooi, waarna 250 hooibale aan die brand geraak het.
Talle boere, buurtwaglede en omliggende inwoners het hul na die plaas gehaas om die vlamme te keer.
Een inwoner het met sy vuurvegterwa na die plaas gery, maar naby die Sondela-natuurreservaat beheer oor sy voertuig verloor en die wa het omgeslaan.
Die man het na verneem word slegs ligte beserings opgedoen.
Die brand is gelukkig later die middag onder beheer gebring.
“Die petrolbomme het gelukkig geen skade by die store veroorsaak nie,” het Groothof gesê.
“Die wind het ook gelukkig op dié dag reg gewaai en die vonke het nie ander gestoorde bale ook aan die brand gesteek nie. Die plaaswerkers het almal ingespring en gehelp en saamgestaan, waarvoor ons dankbaar is. Hulle is erg verontwaardig en kwaad vir die verdagte wat die brand gestig het,” het Groothof aan Die Pos gesê.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor almal wat op die noodgroep gereageer en ingespring het om te help.
’n Saak van brandstigting is reeds by die Bela-Bela-polisie geopen.
Die vermeende brandstigter was teen druktyd steeds op vrye voet.