Wikkel breinaalde en hekelpenne teen koue
Brei- en hekelgeesdriftiges kan hul koue vingers se litte losskud en solank die brei- en hekelpenne nader trek.
Projek Omgeeserpe in Modimolle spring nou al weg sodat hulle volgende winter serpe aan hulpbehoewendes kan skenk.
Die projek se organiseerders het vanjaar ’n blaaskans gevat, maar wil weer aanstaande jaar oral in die dorp serpe ophang waar diegene wat dit nodig het, een kan neem.
Tydens ’n vorige poging is daar meer as 300 serpe uitgedeel.
“Dit is mos lekkerder om in die koue maande met wol op jou skoot te sit as in ons snikhete somers,” het Deirdré Stoffberg, wat die projek geloods het, gesê. “Ons het die afgelope jaar baie navrae gehad oor wanneer die projek weer voortgaan.”
Diegene wat betrokke wil raak, kan hul eie wol, lengte van serp en patroon kies. Hulle word aangemoedig om solank aan die werk te spring — ’n afgeepunt sal later aangekondig word. Diegene wat nie kan hekel of brei nie, maar die projek wil steun, is welkom om wol te skenk.
Vir meer inligting, bel vir Stoffberg by tel. 083 564 6929 of stuur ’n e-pos aan omgeenylstroom@gmail.com(.) Die Facebook-groep se naam is “Omgee Nylstroom”.