Local newsNews

Jong leerders van Pretoria trakteer dorp op jazz-klanke

Die lede van Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria se “swing”- orkes het ’n koue wintersaand sommer gou omtower in ’n heerlike warm atmosfeer toe hulle op Woensdag 3 Julie die gaste in Mookgophong vermaak het met hul puik optrede.

Anet Law, bekende inwoner van die dorp, is deur Floris Smith, departementshoof van musiek, by die skool genader om blootstelling aan die orkes in die dorp te gee. Sy was baie opgewonde en het die geleentheid aangegryp en ’n sop-en-sjerrie-aand by Naboom Village Lodge gereël. Die tafels was keurig gedek en sowat 40 genooide gaste het aangesit om die ete en musiek te geniet.

Die ensemble bestaan uit 12 orkeslede en Braam van Tonder is hulle dirigent. Estelle Mathee is die jazz-orkes se bestuurder. Van Tonder het die orkes aan die gaste voorgestel en verduidelik wat elke instrument se doel is. Die orkes het vier tromboonspelers, een alto-saksofoon, ’n tenoorsaksofoon, baritonsaksofoon, twee trompette, twee kitare waarvan een ’n baskitaar is en die laaste lid bespeel die dromme.

Die orkes het meesal jazz-musiek gespeel, maar het een stuk van Mozart gespeel net om te wys dat hulle repertoire baie wyd is.

“Dit was voorwaar ’n heerlike geleentheid en sommer goed vir die siel,” het een van die gaste na afloop van die gesellige aand aan Die Pos gesê. Gaste het ook aan die organiseerders gesê dat die orkes gou weer in Mookgophong moet kom kuier.

Die ensemble het in die vroeë 1910’s ontstaan toe jazz-musiek baie gewild was. Tot in die 1940’s is “swing”-musiek nog gereeld gehoor. Die “big band-” benaming word ook gebruik om dié genre van musiek te beskryf.

  • Die orkes het ook gedurende die week by die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle opgetree.

Related Articles

Back to top button