Geen keer meer aan dié Nylstroom-manne
“Dit was ’n harde en fisiekse spel, maar ons spelers het aanvallend gespeel.”
Die Nylstroom-rugbyklub het die afgelope naweek weer bewys dat hulle ’n goedgeoliede rugbymasjien is en dat hulle die teenstanders kan kafdraf.
Dié span het op Vrydag 5 Julie teen die Loskop-rugbyklub van Groblersdal uitgedraf om vir ’n plek in die finaal van die Waterberg-rugbyliga te kwalifiseer.
Albei spanne het harde, aanvallende rugby gespeel en mekaar behoorlik die stryd aangesê. Albei spanne het gereeld punte op die telbord geplaas en met die blaas van die eindfluitjie was daar slegs sewe punte verskil. Die Nylstroom-manne het die wedstryd met 34-27 gewen.
“Dit was ’n harde en fisiekse spel, maar ons spelers het aanvallend gespeel,” het Jannie Venter, Nylstroom-afrigter en klubpresident, gesê.
Die Nylstroom-spelers wat uitgestaan het, was Tiaan Bestbier, agterlynspeler, en Arthur-Henry Jones, voorspeler.
Nylstroom draf op Vrydag 12 Julie teen Northam se spelers op Hoërskool Nylstroom se veld uit. Die wedstryd begin om 20:00 en die span vra dat hul getroue ondersteuners asseblief hierdie belangrike wedstryd moet bywoon.
Dit beloof om goeie rugby te wees.