Local newsNews

Spoggerige nuwe wiele vir Melanie

Die dokters het verwag dat sy nie ouer as vier jaar sou word nie en later het die verwagting na tien jaar verander. “Vandag is Melaantjie al 32 jaar oud. Dit is wonderlik,” het haar ma gesê.

Dit was met groot opgewondenheid dat Melanie Kleynhans (32) van Mookgophong haar nuwe rolstoel in ontvangs geneem het.

Melanie is fisiek gestrem nadat sy breinskade weens ’n gebrek aan suurstof tydens haar geboorte opgedoen het.

Yolandie Liebenberg, haar ma, het aan Die Pos vertel sy het destyds baie lang ure as teatersuster gewerk en haar baba is op ses maande gebore. Melanie was drie maande lank in die destydse HF Verwoerd-hospitaal (nou Steve Biko) in Pretoria aan ventilators gekoppel.

Die dokters het verwag dat sy nie ouer as vier jaar sou word nie en later het die verwagting na tien jaar verander. “Vandag is Melaantjie al 32 jaar oud. Dit is wonderlik,” het haar ma gesê.

Melanie het voltydse hulp en versorging nodig. Haar ma en die Mookgophong-, Modimolle- en Mokopane-gemeenskappe het ’n spanpoging aangewend om vir haar ’n nuwe rolstoel te koop wat geskik is vir haar spesifieke behoeftes. Die rolstoel kos ongeveer R42 000 en al die geld daarvoor is deur funksies en donateurs uit dié gemeenskappe ingesamel.

Melanie was op Saterdag 29 Junie oorstelp van vreugde toe sy haar nuwe “ryding” ontvang het. Sy wou dadelik in die nuwe stoel sit en was van kop tot tone uitgevat in pienk, haar gunstelingkleur. Die geleentheid is by die Naboom Tehuis vir Bejaardes gereël en daarna het Melanie opgewonde aan ’n pienk kolwyntjie gesmul wat spesiaal vir die geleentheid gebak is.

Die Liebenberg-gesin kon nie die gemeenskappe genoeg bedank vir hul mildelike bydraes nie en was oorstelp oor die vrygewigheid van die omgewing se mense.

Die nuwe rystoel sal ’n groot bydrae lewer tot Melanie se daaglikse versorging.

Related Articles

Back to top button